GRAAFF-REINET NUUS — Die pas afgelope Sondag, 12 Maart, het die VGK-gemeente in Kroonvale die gebeure van die naweek 11 en 12 Maart 1967 in herinnering geroep.
Vyftig jaar gelede moes die gemeente hul kerkgebou in Kerkstraat ontruim in gevolge die destydse Groepsgebiede Wet.
Hierdie gebou wat die gemeente se aanbiddingsplek was sedert 1821 moes na byna 150 jaar agter gelaat word.
Onder leiding van die destydse leraars FJ Bessinger en CA Meyer is 'n nuwe gebou in Kroonvale opgerig teen 'n koste van by die R40 000.
Die gemeente moes 'n lening by een van die plaaslike banke aangaan om die bouwerk te bekostig.
Dit het etlike jare geduur voor die skuld uiteindelik gedelg is. Beide leraars het met verloop van tyd beroepe na ander gemeentes aanvaar en die gemeente vakant gelaat.
Ds CR Serfontein van Murraysburg is toe beroep.
Sy hele bediening van sewe jaar is oorheers deur geldinsamelings om die skuld te delg.
Die koste het op die ou end R75 000 beloop.
Sondag se diens was gelei deur Ds PJ Gysman huidige leraar en Ds GF Basson die vorige leraar van die gemeente. Na aanleiding van 2 Kronieke 36: 11- 21 is 'n oorsig van
die gebeure van vyftig jaar gelede gegee. Die jonger geslagte weet ook nou waar hulle kerkgebou vandaan kom.
Die gemeente het hulde gebring aan al voorgeslagte wat hard gewerk het om dié pragtige doelmatige gebou daar te stel.
'n Paslike gedenksteen om die naweek se gebeure en vyftig jaar se genade te onthou is deur Ds Gysman onthul.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'