GRAAFF-REINET NUUS— Tydens die pas afgelope Januarie vergadering van die Graaff-Reinet VLV-tak, het Nadine Nel, fisioterapeut werksaam by die Middellandse Hospitaal te Graaff-Reinet, die lede ingelig oor die waarde wat oefening vir mens se liggaam inhou - veral in die geval van bejaardes.
Nel het beklemtoon dat gereelde oefening voordelig kan wees om kroniese siektes te voorkom en om gemoedstoestande te verbeter.
Dit is ook voordelig ten opsigte van jou balans verbeter en verhoed die verlies van beendigtheid wat kan lei tot osteoporose en frakture. Daarby verbeter dit ook jou metabolisme, verlaag dit die risiko van hartsiektes en bloeddrukprobleme en versterk dit die immuunstelsel.
Volgens Nel is daar drie soorte oefeninge wat elkeen maklik kan verrig, by name versterkings-oefeninge soos swem- en weerstandsoefening met ligte gewigte of elastiese bande, kardiovaskulereoefeninge soos swem, stap en fietsry en strek- en mobiliteitsoefeninge om op te warm en spiere af te koel.
Sy het ook beklemtoon dat dit veiliger en meer motiverend is om in ‘n groep te oefen en sluit af deur te sê, "Dit maak nie saak hoe stadig jy gaan nie, jy is steeds vinniger as diegene wat net op die bank sit."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'