TUINROETE | KAROO NUUS - AfriForum-buurtwagte in die Suidstreek, wat takke in die Oos-, Suid- en Wes-Kaap insluit, het vir 14 ure lank hul staal gewys in AfriForum se nasionale massapatrollie wat Vrydagmiddag, 13 Oktober om 16:00 af geskop het.
Dié aksie is in samewerking met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums (GPFs), sekuriteitsmaatskappye sowel as verkeers-, wetstoepassings- en verskeie ander veiligheidsinstansies aangebied.
’n Totaal van 966 AfriForum-patrolleerders en 398 patrolleerders van ander instansies het aan dié streek se patrollie deelgeneem. Die patrolleerders het 17 407 km in 769 voertuie afgelê.
Tydens die patrollie is 46 voorvalle hanteer en sluit in besit van dwelms, huisbraaktoerusting en die onwettige besit van wapens sowel as bestuur onder die invloed van drank.
“Die AfriForum Suidstreek-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidspesialis vir die Suidstreek.
Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwagte, SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’