SUID-KAAP NUUS - Om met jou hond na werk te gaan stap is nie net goeie oefening nie, maar behoort ontspannend en lekker te wees. So, waaraan moet ek dink as ek met my hond gaan stap?
Maak seker dat jy volle beheer oor jou hond het wanneer julle gaan stap. Gebruik 'n goeie leiband. Maak seker dat jy die hond se aandag kan kry indien jy daarvoor vra en dat hy nie op verbygangers spring nie.
Enige gehoorsaamheidsklasse vir honde sal daarmee kan help. Alhoewel jy baie van jou hond hou, is daar wel mense wat niks van honde hou nie. Wees bedagsaam en neem ander mense in ag.
Mense is geneig om te dink alle honde is vriendelik. Dit is egter ongelukkig nie waar nie. Om twee honde uit teenoorgestelde rigtings reguit op mekaar te laat afloop terwyl hulle op 'n leiband is, kan probleme veroorsaak.
Honde sal eerder met 'n boog na mekaar loop en nie direk oogkontak maak nie. Hulle sal aan mekaar se agterkante ruik en baie kere in sirkels loop wanneer dit gebeur.
Vir een hond om 'n ander direk in die oë te kyk kan vir die ander hond 'n teken van aggressie wees.
As jy 'n onbekende hond van voor af sien kom, vermy liewers die ontmoeting deur rigting te verander of om die hond se aandag af te trek tot die vreemde hond verbygeloop het. Baie mense laat hulle honde sonder 'n leiband loop omdat hulle dink hulle honde is vriendelik, gehoorsaam en niks kan gebeur nie.
Die aankomende hond, wat wel aan 'n leiband is, is heel waarskynlik vir 'n rede aan 'n leiband. Hy mag dalk nie hou van ander honde nie en van nature sal jou hond wil kennis maak.
As jy 'n aankomende hond op leiband sien, roep jou hond en sit hom ook aan 'n leiband. Dink aan jou hond se veiligheid.
Maak altyd seker dat jy 'n sakkie byderhand het indien jou hond 'n glips op die sypaadjie het. Dit word van eienaars verwag om agter hulle honde skoon te maak. Wees bedagsaam en op die manier kan almal hulle stappies met hulle honde geniet.
Vir meer oor stap met 'n leiband e-pos george@rehabdogworks.com.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'