GRAAFF-REINET NUUS - Die Mountain Drive parkrun buite Graaff-Reinet is 'n uitdagende roete, maar NG pastoriehond Cloè van Tonder (4) skrik vir niks nie.
Hierdie Yorkshire terriër het al oor die 10 parkruns agter die rug, en is bewyse dat groot gif wel in klein botteltjie kom.
Cloè is die viervoetige kind van dominee Ben van Tonder en sy vrou Sanet.
Hulle het ook drie 'regte' kinders: Lara (20), Eduan (17) en Alinda (13). Volgens Sanet is Cloè altyd die eerste van die kinders om fiks te verkeer.
"Wanneer Ben aan sy tekkies raak begin sy opgewonde blaf en rondhardloop," het Sanet aan die Advertiser vertel.
"Cloè is sy beste oefenmaat. Wanneer ons gaan stap hardloop hy en sy 'n entjie vooruit en wag dat ons ander hulle inhaal."
Ben en Sanet het vroeër vanjaar vir die eerste keer aan die nuwe plaaslike parkrun deelgeneem, waar hulle gesien het dat dit vir die hele familie is. Cloè het nog nie weer een misgeloop nie.
Cloè (4) en Ben van Tonder in aksie by die plaaslike parkrun.
"Sy is seker die mees opgewonde van almal wat deelneem" het Sanet verduidelik. "Sy hardloop of stap die hele roete met passie."
Volgens Sanet is Cloè goedgesind teenoor ander vierbenige parkrunners, maar wanneer groot honde naby is, tel haar familielede haar maar op. "Sy is so klein, net een happie vir die groter honde!".
Om fiks te bly volg Cloè ook 'n gesonde dieet; hoendervleis is haar gunsteling. Sy geniet wel so nou en dan 'n lekkerny, en smul graag aan Montego se Bag O' Wags.
Wanneer Cloè nie doenig is by die parkrun nie, slaap sy tot 11vm, waarna sy met haar rondtes in die tuin begin om voëls weg te jaag. Sy is wel baie vriendelik teenoor besoekers wat 'n draai by die pastorie maak.
In haar vrye tyd geniet sy familietyd, saamkuier op die stoep, en om by die kar se venster tydens ritte uit te loer. Sy oefen tans om tydens die opkomende vakansie by die see op die strand te hardloop.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'