KAROO NUUS - Die veelkleurige herfsbome, veral in die hoërliggende gedeeltes van die Oos-Kaap en Noord-Oos-Kaap, wys die winter is op hande.
In die Molteno- en Burgersdorp-distrikte verkleur die populierbome nou van geel na rooi. Hierdie tyd van die jaar is dit skilderagtig, want binne 'n maand sal die takke kaal en die veld vaal wees.
Die eerste ryp in die Molteno-distrik is reeds op 24 Maart aangemeld, maar die laerliggende gedeeltes van Hofmeyr en Steynsburg het hul eerste ryp eers op 17 April voel byt. Dit is heelwat later as vroeër jare, maar dit is vermoedelik omdat dit 'n natter somer as gewoonlik was.
Die koue is egter ook 'n goeie teken, veral in omgewings waar daar gevrees word vir sprinkane. Ryp dui in die meeste gevalle die einde van die aktiewe groeiseisoen aan en alle someroeste behoort reeds afgehaal te wees.
In die Hofmeyr-distrik is doodgerypte pampoenlande plek-plek sigbaar en die teflande het na 'n sagter groen verkleur na die ryp. Veldgrasse is reeds droog en die veld lyk dus nie meer op die oog af so groen soos twee weke gelede nie.'n Watertenk wat lek maak skilderagtige winterfoto’s. Met die eerste ryp die afgelope week het die vallende water vasgeryp aan die raamwerk.
Boere digby die Bamboesberge het ook reeds voorsorg getref teen die verlammingsbosluis, wat ná eerste ryp toeslaan en veesterftes veroorsaak, en diegene wat in die somer veld gespaar het vir winterweiding, sal eersdaags bergaf trek met hul kuddes.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'