GRAAFF-REINET NUUS - Solidariteit Helpende Hand het onlangs 'n welsynswinkel, bekend as Ons Winkel, in Graaff-Reinet geopen.
Tanya Venter, die kontrakteur van Ons Winkel by 6 Fabriekstraat, sê hulle hou interessante en bekostigbare tweedehandse goedere, speelgoed en oudhede aan in die winkel.
"Alles wat jy hier aankoop, word weer vir 'n goeie doel aangewend om 'n verskil in die gemeenskap te maak. Tog sou daar nie iets gewees het om te koop, as iemand dit nie geskenk het nie. Daarom moedig ons inwoners aan om enigiets wat by hul huise in die pad staan vir ons te skenk."
Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word, van meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene en sporttoerusting tot elektroniese ware.
Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat, onder meer, vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Die studiefonds bied rentevrye lenings aan studente wat kwalifiseer om verder te studeer, maar nie die nodige fondse het nie.
Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede in Afrikaanssprekende gemeenskappe te verlig.
Ons Winkel is in dieselfde gebou as Graaff-Reinet Recyclers.
Vir meer inligting, bel Venter by 072 673 9463.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'