GRAAFF-REINET NUUS — Sakkie van Zyl, voormalige munisipale raadslid en bekende sakeman, het onlangs die nalatenskap van Theo Thijssen op ’n gepaste wyse by Reinethuis gevier.
Thijssen, ’n Nederlander, het bekendheid verwerf vir sy humanitêre werk in Graaff-Reinet.
Oor ’n tydperk van baie jare het sy bydraes gewissel van die sinking van boorgate by skole, die befondsing van leerkragte se salarisse, opvoedkundige toere vir leerders en selfs die oprigting van speelparke by skole.
Oor ’n tydperk wat vir meer as ’n dekade strek, het Thijssen fondse in Nederland ingesamel om hierdie projekte te befonds.
Kort voor sy dood in September 2017, het Thijssen ’n bedrag bewillig om die bejaardes van die voorheenbenadeelde gemeenskappe van Kroonvale, Umasizakhe, Santa, Asherville en Geluksdal op ’n sosiale byeenkoms te trakteer waartydens hulle kon gesels oor die verlede en veral oor die invloed wat Apartheid op hulle lewens gehad het.
Tydens hierdie geleentheid is hulle herinnering ook deur personeel van die Graaff-Reinet Museum as deel van hulle mondelinge-oorleweringeprojek, opgeneem. Dit sou Thijssen se laaste welwillendheidsdaad wees.
Tydens hierdie geleentheid het Van Zyl ook uit Jesaja 43:18 gelees en gemaan dat die verlede vergeet moet word en dat op die toekoms gebou moet word. Elke gas het, na ’n heerlike ete deur van Zyl voorberei, ’n pakkie ontvang wat ’n yskasmagneet met ’n foto van Thijssen en sy vrou, as aandenking ingesluit het.
Thijssen se nalatenskap leef voort in die gemeenskap wat hy met oorgawe gedien het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'