GRAAFF-REINET NUUS - Vuyani Safe Haven in Graaff-Reinet het Woensdag, 26 Augustus, ’n splinternuwe agt-sitplek sitkamerstel van Herholdt Top Carpets ontvang.
Volgens Riana van der Ahee van die huis wou ’n groepie opgewonde kinders dadelik voel hoe hierdie nuwe stel sit.
Van der Ahee verduidelik dat, na vyf jaar se diens aan 24 kinders, die ou stel werklik gedaan was.
“By Vuyani is dit belangrik dat die kinders van kleins af die beginsel van uitnemendheid geleer word. Dit behels eerstens dat mens jou besittings oppas, maar ook dat wanneer iets stukkend is, dit reggemaak of vervang moet word,” sê Van der Ahee. “Nou kan die kinders weer trots wees op hulle huis.”
Vuyani, met die beleid om so ver moontlik plaaslik te koop, het oor die jare aankope by die Graaff-Reinet tak van Herholdt Top Carpet gemaak, wanneer hulle befondsing vir huishoudelike items ontvang het.
“Ons wil graag die eienaar, Piet Herholdt, bedank vir hierdie skenking, wat ook getuig van Herholdt se bereidwilligheid om deur die jare die gemeenskap van Graaff-Reinet by te staan met skenkings.”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'