GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet, die juweel van die Karoo, moes Dinsdag afskeid neem van een van sy blinkste edelstene.
'n Geliefde eggenoot, ma, ouma en vriendin is tragies weggeraap.
Die sinnelose moord op Karin Marais het dié Karoodorp tot in sy diepste wese geskok.
Uit die letterlik honderde huldeblyke op sosiale media en op haar aangrypende roudiens, tot by die verbyry-gedenkdiens, waaraan 'n ellelange motorkonvooi van plaaslike inwoners deelgeneem het, is 'n tasbare bewys van die blywende impak wat dié formidabele vrou op die gemeenskap agterlaat.
Daarom voel ons so magteloos om trooswoorde te spreek tot 'n groot en voorbeeldige familie van kinders, kleinkinders en ander verwante. Graaff-Reinet se hart gaan tot hulle uit in hul onmeetlike verlies.
In hierdie hartseertyd van skok en ontsteltenis is dit moeilik om 'n volledige waardebepaling te maak wat die dorp verloor het deur die barbaarse messteke van 'n verfoeilike lafaard.
Karin se intense betrokkenheid en bydrae tot 'n voortreflike diens aan die gemeenskap kan nie in geldwaarde gemeet word nie. Dit was 'n skof waarna sy met blymoedigheid en ondernemingsgees uitgesien het.
Op haar pad van pligsvervulling het sy verkies om die kollig te vermy of haar eie prestasies en verdienste aan die groot klok te hang. Maar in 'n enger kring van familie en vriende sou haar navolgenswaardige voorbeeld boekdele spreek.
Haar heengaan, en nog meer: die gruwelike aard daarvan, is 'n skok wat Graaff-Reinet gaan beproef. Kan mens die gelowiges onder ons verkwalik as hulle dié verfoeilike daad bevraagteken? Nou begryp ons dit nie.
Mag die God in Wie ons glo, in sy eie tyd vir ons dié afskuwelike gebeurtenis verklaar.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'