Video
ABERDEEN NUUS EN VIDEO - Die alsiende oog van ‘n sekuriteitskamera het gisteroggend, Maandag 8 Mei, vir die eienaar van ‘n gebou in Aberdeen ‘n breë glimlag besorg.
“By ons aankoms het ons almal dadelik gesien ons wilde, opskiet-“tamatie"-boompie lyk kaler as Vrydag,” sê die eienaar.
Kort voor lank het die videomateriaal die misterie opgeklaar: om ongeveer 05:45 verskyn ‘n ratse figuur in die kamera se opneemarea, beweeg doelgerig na ‘n spesifieke punt en oes na behoefte van die daggaplant. Hy verdwyn dan weer net so rats uit beeld.
“Ek kon nie help om te wonder of die naweek so rof was en of die Maandag so blou sou word dat hy vroegdag só honger was vir die vredestwakkies nie!” lag die eienaar.
“Hy moes sommer rats wees om oor die heining te kom - of desperaat. Dis hoog. En dat hy van die boompie geweet het, is self ‘n prestasie, want dis redelik uit die publieke oog. Die boompie het hier langs die gebou opgekom en ons het dit maar water gegee. Dit het eintlik heel gewillig gegroei!”
Die eienaar het vir sekuriteitsredes die plant gedurende die dag kaal gestroop.
Die identiteit van perseel en eienaar is bekend aan die Advertiser, maar word verswyg om toekomstige stropings te voorkom!
VERSKAFDE VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’