GRAAFF-REINET NUUS - 'n Alombekende en geliefde motorfietsryer, Francesco 'Fatty' Colarossi (50) het op die Cookhouse-pad verongeluk.
Hy sou Saterdag 8 Junie, sy 51ste verjaardag gevier het.
Colarossi, van Cradock, het Sondag omstreeks 12-middag met sy Suzuki GSX1300R Busa-motorfiets in die rigting van Cradock gery, toe 'n vrou voor hom ingestap het. Beide is op die toneel dood.
'n Vriend wat anoniem wil bly het agter Colarossi gery toe die ongeluk plaasgevind het. Bevestiging oor die vrou se identiteit kon nie met ter perse verkry word nie.
Colarossi was in die Karoo-omgewing bekend as 'n mens wat sy lewe vir sy familie en vriende uitgeleef het. Hy was 'n groot motorfiets-entoesias en lid van die Iron Hearts MCC Graaff-Reinet-motorfietsklub.
'n Vriend en mede-motorfietsryer, Pieter Erasmus jnr, onthou Colarossi vir sy goeie hart en grappies.
"Hy was iemand gewees wat nooit verby jou geloop het sonder om te groet nie. Hy het altyd tyd gehad om 'n grappie te vertel, en sy hart was defnetief groter as sy hande. Ek sal nooit vergeet hoe hy ons op ons 4x4-toer gehelp het nie. Hy was altyd 'n bok vir sports gewees, en het nooit teruggestaan vir 'n uitdaging nie, ook nie in sy werk nie."
Die Suzuki GSX1300R Busa-motorfiets na die botsing.
Colarossi was die eienaar van Fatty's Mechanical Repairs in Cradock.
'n Plaaslike motorfietsryers, Suné van der Mescht, het Woensdag gesê, "daar was net een Fatty gewees, altyd vriendelik, behulpsaam en gekskeurder. Ons gaan jou vreeslik mis. Rus sag."
'n Roudiens word Donderdag 6 Junie om 11vm in die NG Kerk Cradock vir Colarossi gehou.
Hy word oorleef deur sy vrou Leniel, twee kinders en 'n kleinkind.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'