Update
ABERDEEN NUUS - 'n Intense wind- en reënstorm met fyn hael het Aberdeen Dinsdagmiddag, 7 Februarie, getref. Op plekke is 40 mm gemeet in die eerste halfuur, met 'n verdere 7 mm se sagter reën tot in die aand.
In Thembalesizwe is verskeie inwoners dakloos gelaat en in Lotusville is verskeie huise se dakke gelig en twee dakke het afgewaai.
Die kliniekgebou was onder water, soveel so dat die brandweer die water moes uitpomp. In Aberdeen-dorp het water by verskeie huise ingestroom.
Een eienaar se huis het vir die derde keer hierdie jaar oorstroom terwyl 'n ander se grensmuur omgeval het. 'n Groot boom wat omgeval het, het ten dele die dak van 'n huis getref.
Die munisipale kantoor het oorstroom en skade is vererger deur die lekkende dak.
In veral Thembalesiswe het kragpale begin swig in die nat grond en kabels is afgeruk. Die plaaslike elektrisiteitspan, wat bestaan uit drie mense, het tot Dinsdagaand 21:00 in baie moeilike omstandighede gespook om kragtoevoer te herstel.
Hulle was van vroeg Woensdagoggend af weer besig om beskadigde pale en kabels te herstel.
Verskeie bome in die hele gebied is ontwortel en het omgetuimel. Raadslid Adriaan van Heerden het weinig geslaap – hy was van kort ná die storm besig om huishoudings te help met krisisbeheer; van meubels skuif uit water tot vore skoonmaak en water weglei.
'n Groot boom het dwarsoor die straat geval.
Van Heerden sê die drie hoofredes vir die skade is: "Eerstens, die dorp se munisipale infrastruktuur is totaal verwaarloos en geen behoorlike onderhoud word gedoen nie, ten spyte van gereelde pleidooie. Tweedens, die bome is totaal oorgroei en niks word daaraan gedoen nie. Derdens, met 'n uitgerekte droogte het baie inwoners nie huise se dakke gediens nie."
Op navraag het die plaaslike waarnemende munisipale areabestuurder, Clive Kombani, slegs verwys na die weer-waarskuwing wat deur DBNPM uitgereik is tot die effek dat beamptes besig is om skade te bepaal en dat die Sarah Baartman-distrikmunisipaliteit se rampbestuureenheid in kennis gestel is.
Skade in Lotusville en Thembalesiswe blyk hoofsaaklik te wees as gevolg van oorgroeiing, swak dreinering, residensiële dakke het gelig of afgewaai in die storm. In Aberdeen-dorp is minder dakskade, maar talle huise is oorstroom. Oorgroeiing en geen behoorlike, werkende stormwater-dreineringstelsel word blameer.
"Ek was Maandag weer by die munisipale kantoor en het weer gaan pleit dat hulle moet begin om die leivore skoon te maak. Al wat ons het, is die leivore wat in elk geval te klein is om groot reën te hanteer. Die leivore is geblok met meestal rommel wat net nie verwyder word nie," sê van Heerden, wat in Aberdeen grootgeword het. Hy reken dat Dinsdag se reën nog glad nie groot reën is nie.
"As hier groot reën kom, gaan ons regtig moeilikheid hê."
Enkele munisipale werkers was gisteroggend besig in Thembalesizwe om sement-dreineringsvore skoon te maak van vullis, modder en rommel.
In Hoopstraat het werkers die leivoor skoongemaak en die straat gevee. In Aberdeen-dorp se woongebiede was daar gisteroggend geen werkers nie en het die rommel steeds die vore geblokkeer.
Hope vullis, rommel en modder wat inderhaas tydens en na die storm deur inwoners uit die vore gehaal is, het rondgelê.
Van Heerden verwoord menige Aberdeners se sentiment: "Ek kry skaam – gewoonlik was reën 'n dorp skoon. Ons dorp lyk vandag soos een groot vullishoop. Ek gaan nou weer terug munisipaliteit toe."
Vorige artikel: Reusestorm in Aberdeen
Rdl Adriaan van Heerden was Woensdagoggend reeds vroeg uit die vere na min slaap.
Talle strate se natuurlike watervloei word deur rommel geblokkeer.
Verskeie huise in Thembalesiswe het hulle dakke verloor. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'