Gallery
KAROO NUUS - In die hartjie van die uitgestrekte Karoo is daar ‘n fees wat jou nie onaangeraak sal laat nie.
Die Stilfees op die plaas Grootdriefontein in die Murraysburg-distrik vind dié jaar op Saterdag, 23 Maart, om 10:00, plaas.
In die koelte van ‘n populierbos met jou kampstoel, hangmat of kombers, kan jy kom stil-wees, mens-wees, eg-wees.
Dit is ‘n plek waar gesinne - oud en jonk - weer met die natuur deur middel van musiek kan rus.
Kunstenaars soos Joshua na die Reën en Almero en Hannah Forster bring skrywes uit hul eie pen.
Van kontemporêr tot Jazz asook Folk – daar word omtrent iets vir almal aangebied.
Die kinders (of sommer almal wat wil) word tussendeur vermaak deur Jaco Spies van Drumability met sy 100 djembe tromme wat hy saambring.
Dié fees is ook omgewingsvriendelik – verlede jaar is daar slegs 10% van die fees se afval na die plaaslike asgate geneem.
Die res is als na ‘n komposhoop of herwinning toe.
Stalletjieshouers gebruik slegs herwinbare en bio-afbreekbare produkte om hul heerlike delikatesse in te verkoop.
Hier gaan jy nie die gewone feeskos-stalletjies kry nie, maar liewer die ‘slow-food’, gourmet-tipe.
Feesgangers is welkom om ‘n piekniekmandjie vir die dag te pak, maar kanse is goed dat jy dit nét so gaan terug neem huis toe.
Daar word van ‘craft’ bier, tot tuisgemaakte roomys, braaivleis en roosterkoek aangebied sowel as ‘smoothies’, ‘swarmas’ en soetgoed uit die kombuis van die welbekende Hestie van der Mescht van Graaff-Reinet se Polka-restaurant.
Voorwaar iets vir elke voorkeur.
“Ons probeer ‘n geleentheid skep waar liggaam, siel en gees weer in harmonie kan kom met die natuur om ons,” meen Karin Reynolds, een van die organiseerders.
Kaartjies vir die fees kan slegs deur die webwerf – www.stilfees.co.za – bespreek word en beloop R200 per volwassene en R75 vir skoliere.
Daar is ‘n beperkte hoeveelheid plekke, so maak nou ‘n plan om te verseker dat jy dit nie misloop nie.
Hierdie is sowaar ‘n ervaring wat jy nêrens anders sal kry nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'