GRAAFF-REINET NUUS – Moedersdag word hierdie maand gevier en ons is bewus van die belangrike rol wat hierdie spesiale mense in ons lewens speel.
Moeders is van die mees algemene gebruikers van bloed weens komplikasies tydens geboorte. Maak seker dat daar genoeg bloed vir ons moeders is.
Elke jaar sterf meer as 500 000 vroue onnodig tydens swangerskap of bevalling. Ernstige bloeding sonder toesig kan selfs ‘n gesonde vrou binne twee ure laat sterf en dra by tot die dood van tot soveel as 44% van moeders in Afrika.
Tot en met 25% van alle moedersterftes kan voorkom word deur toegang tot veilige bloed. Bykans 26% van bloed in Suid-Afrika word jaarliks gebruik vir vroue wat ‘n bloedoortapping benodig tydens bevalling of vir ginekologiese gevalle.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) eer alle vroue-skenkers wat gereeld bloed skenk om die lewens te red van mense wat hulle nie ken nie.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens nooi die gemeenskap van Graaff-Reinet om bloed te skenk op Maandag, 14 Mei, in die Dudley-saal (57 Caledonstraat) vanaf 14:00 tot 18:00.
Om ? bloedskenker te word moet jy:
- Tussen die ouderdom van 16-65 wees
- Meer as 50kg weeg
- Iets voor jou skenking eet
- ? Veilige seksuele leefstyl lei
- Gesond wees op die dag van skenking
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'