Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO — Die raadslid vir Wyk 14 in Santaville op Graaff-Reinet, Joy Williams, is bekommerd oor die toename in huisbrande sedert Junie.
Volgens Williams het ‘n brand gedurende verlede naweek drie plakkershutte in die agterplaas op een erf geeïs.
‘n Bakkkie op hierdie erf het ook in die slag gebly.
“Dit is die derde brand wat sedert Junie in Santaville uitgebreek en verskeie huishoudings vernietig het,” sê Williams.
Sy beskou die brandvoorvalle as kommerwekkend. “Ek is baie bly dat niemand gedurende hierdie voorvalle beseer was nie.”
“Die inwoners van hierdie huise is egter dakloos gelaat en al hul persoonlike besittings is in die brande vernietig.”
Williams het gesê sy wil ‘n beroep op inwoners doen om waaksaam te wees teen die gevare van oop vlamme.
“Indien mense kerse en paraffien gebruik, moet hulle ook bewus wees van die risikos wat dit meebring. Die oop vlamme moet met die nodige respek hanteer word sodat rampe soos hierdie vermy kan word.”
Sy het verder gesê sy is baie trots op die Santaville gemeenskap wat ingespring het om die brande te blus tydens die laaste voorval.
Volgens Williams kon die brandweer personeel wat aan diens was, nie bereik word nie - en bure en ander lede van die gemeenskap het glo self ingespring om die vuur onder beheer te kry.
“Dit is ook ‘n kwessie om oor bekommerd te wees. Die gemeenskap het ‘n diens nodig gehad wat hulle nié gekry het nie.”
Sy is egter daarop gemik om op dienslewering in die area te verbeter.
"Mense moet toegang hê tot nooddienste, veral mense wat in arm woonbuurte bly. Dit is 'n uitdaging wat regtig ernstig aangespreek moet word."
Kyk 'n video hieronder.
'n Bakkie het in die slag gebly toe drie plakkershutte afgebrand het. Foto: Verskaf
Slegs die fondasie het oorgebly van nòg 'n hut wat afgebrand het. Foto: Verskaf
ARTIKEL EN VIDEO: JASON MILLFORD
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'