GRAAFF-REINET NUUS - Tandjiesberg is ‘n baie bekende baken naby Graaff-Reinet.
'n Oud-inwoner van Graaff-Reinet, Swannie Swanepoel, het onlangs 'n pragtige gedig oor dié berg gepen.
Swannie (88), wat tans in George woonagtig is, het vir etlike jare in Graaff-Reinet saam met sy eggenote Joey (‘n nooi Venter) gewoon.
Die gedig lees as volg:
TANDJIESBERG
Tandjiesberg O Tandjiesberg!
Jy bly van oertyd af ‘n wonderberg.
Jy is ‘n bastion, soos ‘n klipkasteel
Wat jou vir mens en dier as gastehuis deel.
Jy moet maar toelaat dat hulle jou terg
Want jy het jou tandjies tot stompies verdwerg.
Dit is stompies ja, maar stompies van ivoor
Daarom hang die lugverspieders hul mantels daaroor.
Jy is geskep as ’n konglomeraat
Saamgevoeg uit materie sonder las of naat
Met goud en silwer is jy beloon
As ’n juweel is jy geplaas in God se kroon.
Die kleur van jou kleed is van koninklike blou;
Jy is bonkig en breed, getrou aan ‘n monument gebou.
Sondae staan jy soos ‘n tempel stemmig en mediteer
En betig jy ons wanneer ons ons rug op jou keer.
Jou voete is van graniet en met dolomiet versier;
Jou mure is van marmer en kroonstene in alle swier.
Jy staan op jou goue akker as die kleinste kolos
Maar tog die groot versamelaar van die groenste mos.
Jy weet dat drome draers is van tydings van hoop;
Droom maar voort van dit wat alles tot die liefde noop.
Kan jy sê: “Met Millenniums wat jou soveel jare dra
Het jy miskien na die sin van die lewe gevra?”
Swannie Swanepoel, George, September 2018
Kopiereg voorbehou
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'