Gallery Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Die isiXhosa woord "Thembalethu" beteken "om hoop te gee," en dit is presies wat dié nasorgsentrum in Kroonvale doen.
Die sentrum, wat meer as 15 leerders met leerprobleme help, is vroeër vanjaar gestig deur oud-onderwysers Regina Bosman (67) en Edith Bosch (66). Saam het hulle 81 jaar se skoolgee-ervaring.
"In die onderwys het ons gesien dat kinders met leerprobleme benadeel word," het Bosman verduidelik. "Klasse is te groot en onderwysers het nie tyd om aandag aan die leerders te gee nie."
Só is Thembalethu begin, 'n inisiatief wat Bosman en Bosch self finansier. Beide is pensioenarisse.
"Ons sukkel maar," vertel Bosch oor die sentrum se huur, water en ligte. Hulle verskaf ook middagetes vir elke leerder. Al word ouers R100 per maand gevra, sê Bosman en Bosch dat nie almal dit kan bekostig nie. "Die kinders se vordering hou ons gemotiveerd om aan te gaan," stem die vroue saam. Volgens hulle is daar reeds 'n groot verbetering in die kinders se werk, sowel as in hul gemoedstoestand. "Al wat hierdie kinders nodig het is geduld en liefde."
Kyk 'n video hieronder:
Enige leerders is welkom om by die sentrum aan te sluit. Tans wissel die leerders tussen Gr. 1 en Gr. 7.
Gemeenskapslede wat skenkings wil maak, kan Bosman (065 557 3208) of Bosch (082 930 9523) kontak.
Leerders van Thembalethu-nasorgsentrum in Kroonvale. Foto's: Paula-Ann Smit
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'