GRAAFF-REINET NUUS - Die omgewings aktiviste van die Karoo Environmental Justice Movement (KEJM) het verlede week op Graaff-Reinet vergader om beoogde hidroliese breking en verskeie ander mynbou-aktiwiteite deur maatskappye in die Karoo te stuit.
Dit kom nadat die minister van minerale bronne, Gwede Mantashe vroeër vanjaar aangekondig het dat die regering wil voortgaan met hidrobreking in die karoo.
Mantashe het in Mei aangekondig dat aansoeke vir skaliegas-eksplorasieregte in die Karoo bespoedig word.
Mantashe het dit in sy eerste toespraak as minister van minerale bronne in die parlement gemeld ter ondersteuning van sy departement se begroting van R1.9 miljard.
Sy redes was gebaseer op PetroSA se verslag wat onthul het dat sowat 205 triljoen kubieke voet skaliegas skynbaar in die suidelike bekken van die Karoo ontgin kan word.
Mantashe sê die ontginning van Suid-Afrika se skaliegasreserwes kan die land se energie-ekonomie verander.
Dié aktiviste wat verlede week vergader het, wil dié tipe mynbou-aktiwiteite in totaal laat verban.
Aktiviste bestaan hoofsaaklik uit plaaswerkers, opkomende boere, kerke, die KhoiSan, jeuggroepe en vroue.
Die KEJM is reeds in 2008 in die lewe geroep toe dit nog bekendgestaan het as die 'anti-fracking' taakspan wat slegs lede vanuit die verskillende Karoo dorpies was.
Hierdie groep het gou met omgewings-aktiviste regoor Suid-Afrika bande begin bou en het selfs 'n omgewings-skool bygewoon.
'n Woordvoerder, Neville van Rooy, het aan die Advertiser vertel dat hul weerstand nié net teen skaliegas of hidrobreking is nie, maar ook teen ontginning van Uraan.
"Dit is 'n groot bedreiging vir ons lieflike Karoo," het van Rooy gesê.
Het het verder genoem dat die aktiviste se onlangse byeenkoms dit ook ten doel gehad het om 'n vedltog te beplan, met die hutsmerk #KarooBanFracking, wat in November gaan plaasvind.
"Daar moet nou meer as net weerstand gebied word teen 'fracking', dit moet verban word."
Van Rooy het afgesluit deur te meld dat daar meer inligting rondom die veldtog tot en met November bekendgemaak sal word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'