MURRAYBURG NUUS — Sondag, 22 April, was vir die NG gemeente van Murraysburg 'n spesiale dag.
Na meer as 'n jaar waarin die gemeente sonder 'n permanente leraar gefunksioneer het, is Ds Nadine Jacobs as die nuwe leraar bevestig. Vir haar was dit ook 'n mylpaal, want dit is haar eerste gemeente.
Nadine Jacobs en haar twee jonger broers word groot op haar ouers, Danie en Susan Jacobs, se plaas in die distrik Makwassie in die Noordwes Provinsie.
Sy matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaranstad, waarna sy haar teologiese studies aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Sy word aan die einde van 2017 gelegitimeer as proponent van die NG Kerk. Murraysburg se eerste vroulike predikant is 'n groot diere-liefhebber, geniet die buitelewe en skryf graag gedigte.
Die bevestiging is waargeneem deur Dr Ben van Tonder van Graaff-Reinet, wat die konsulent vir Murraysburg is. Die seremonie was baie besonders.
Die pligte van die leraar, soos bv die verkondiging van die Woord en die bediening van die sakramente, is simbolies in die seremonie ingepas.
Hierna het Ds Jacobs haar intreepreek gelewer met 1 Joh. 3: 16-24 as teks. Sy het veral klem geplaas op vers 18 wat lees: "..... ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid."
Met die bevestiging van Ds Jacobs het 'n hele paar eerstes gebeur.
Dit is die eerste keer dat die NG Gemeente van Murraysburg 'n proponent as leraar bevestig, dit is die eerste keer dat Murraysburg 'n dame as leraar het, én dit is selfs die eerste keer dat die Ring van Graaff-Reinet 'n vroulike leraar in sy geledere het!
Na die erediens, het die gemeente, saam met genooide gaste én die Jacobs familie, gesellig saam geëet en gekuier in die kerksaal. In sy verwelkoming by die ete het oudl. Kotie van den Berg gesê dat dit die gemeente se Christelike plig en voorreg is om Ds Nadine Jacobs se eerste werkservaring aangenaam en geseënd te maak.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'