Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Vakansies is die ideale geleentheid om kinders die vaardigheid van hoe om met ’n tolletjie te brei te leer.
As jy nie jou eie een wil maak nie, het ‘Made It’ in Somersetstraat, Graaff-Reinet, tans skattige stelletjies spesifiek vir die gebruik van kinders te koop.
Dit kan as ’n medium gebruik word om ’n item te skep soos byvoorbeeld ’n matjie om ’n warm teepot op neer te sit of iets soortgelyk.
Stappe
1. Jy benodig die volgende artikels:
· Houttolletjie - ’n garetolletjie of ‘n ronde houtpaal (waaraan gordyne gehang word wat in groot genoeg stukkies gesny is).
· Vier klein spykertjies met klein koppies (“panel pins”/paneelspykertjies).
· ’n Dunnerige kort breinaald of ’n kort sosatiestokkie.
· Verskeie kleure oorskietwol van dieselfde dikte, verkieslik 4-draadwol. Te dik wol gaan nie deur die gaatjie pas nie.
· ’n Stukkie riffelkarton – gesny in ’n patroon van jou eie keuse – groot genoeg om byvoorbeeld ’n teepot op neer te sit.
2. Kap 4 spykertjies ewe ver van mekaar af bo-op die tolletjie in. Begin deur die wol se punt om ’n spykertjie te hou.
3. Gebruik die naald om die wol dan oor te haak en sodoende ’n stekie te maak wat aan die spykertjie vas is. Beweeg dan om al die spykertjies en haak (“brei”) telkens die wol by elkeen oor. So word ’n lang “wurmpie” gevorm wat deur die gaatjie van die tolletjie afhang, nadat ’n paar keer om die spykertjies “gebrei” is.
4. Wanneer jy oorgaan na ’n volgende kleur wol, maak seker dat die wol goed gelas (geknoop) is. Stoot die knoop in die tolletjie se gaatjie om dit binne-in die “breiwerk” te versteek.
5. Wanneer die breiwerk (wurmpie) lank genoeg is, eindig dit af en knoop die punt van wol vas sodat die breiwerk nie lostrek nie. Draai die wurmpie dan vanaf die middel op die patroon om die karton toe te maak. Plak die wurmpie stukkie vir stukkie op die karton met projekgom vas.
Kyk 'n video hieronder:
Wenke
1. Hoe meer kleure wol jy gebruik, hoe vroliker lyk die eindproduk.
2. Hierdie is ’n oulike moedersdaggeskenkie of ’n item vir entrepreneursdag.
3. Tolletjiebrei-stelle is ook beskikbaar en kan gekoop word.
Waarskuwings
1. Kleiner kinders moet versigtig wees met die skerp punte van die naalde.
2. Die patroon moet nie vir beginners te groot wees sodat hulle dalk dalk moedeloos raak nie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'