HOFMEYR NUUS - Hofmeyr Hugs of Hope het op 12 Mei aan elke leerder van Hofmeyr DRC Primêr 'n wolmus en serp uitgedeel.
"Die skool sou die Vrydag om 12:00 sluit, maar toe die leerders die Hugs of Hope-voertuig sien, wou hulle nie eens huis toe gaan nie," vertel Delia-Rachelle du Pont-Faniso, fasiliteerder by die skooltjie.
Volgens haar kom talle leerders karig geklee by die skool aan omdat hulle nie veel het om aan te trek nie.
Hugs of Hope ontvang wolskenkings van die publiek; dié wol word dan aan bejaarde breiers in ouetehuise gegee om items mee te brei. Die bejaardes word vergoed vir hul breiwerk en geniet die idee om 'n mus of twee vir 'n kind wat koud kry, te brei," sê Mariaan Schoeman, tesourier van die instansie.
"Die was hartroerend toe leerders kom vra of hulle regtig die wolmus mag hou en die vreugde was duidelik op hul gesiggies sigbaar toe ons sê dis joune om elke dag te dra," vertel Allen Arendts, wat behulpsaam was met die aflewering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’