OUDTSHOORN NUUS - "Ek het die nasionale minister van vervoer, Lydia Sindisiwe Chikunga, asook die Oos-Kaapse minister in beheer van vervoer en paaie, LUR Xolile Naqta, gekontak," sê Kobus Botha, lid van die Oos-Kaapse Wetgewer in Bhisho, DA-skaduminister van maatskaplike dienste en Oos-Kaap-middellandse kiesafdelingsleier.
Die rede hiervoor, is dat Botha aanvoer dat verkeersoortredings wat deur bestuurders van trokke, meer spesifiek, mangaantrokke in Cradock, Middelburg en op die N10 aan die toeneem is. Hierdie reaksie van Botha volg nadat twee swaar gelaaide vragmotors in 'n noodlottige ongeluk op die N10, 40 km buite Cradock, betrokke was.
"Ek het hulle versoek dat alle verkeersoortredings aangemeld en ondersoek word, en ek het reeds terugvoering vanuit Cradock en Middelburg ontvang dat verkeersoortredings, sedert my navraag, suksesvol vervolg word," sê Botha.
In die brief verwys Botha spesifiek na die gevaarlike spoed waarmee die mangaantrokke deur dorpe ry. "Die plekke waar trokke parkeer is nie altyd veilig nie, geparkeerde trokke beskadig die teerpadoppervlakte en stormwaterpype, hulle neem ook 'n aantal parkeerplekke in beslag, trokke ry baie kort agtermekaar, hulle neem nie ander verkeer in ag wanneer hulle van bane verwissel nie en sommige trokke ry onverskillig, om net 'n paar bekommernisse te noem.
Ek het self al gesien hoe trokke voor ander voertuie in ry. Ek ontvang ook talle klagtes van padgebruikers oor trokke wat nie verkeersregulasies nakom nie.
Volgens Botha het die besturende direkteur van die Padvragassosiasie (RFA), Gavin Kelly, op sy navraag gereageer en gesê dat daar landwyd 'n toename in verkeer op paaie is, asook vanselfsprekend 'n toename in botsings en ongelukke. "Die hoofoorsaak van die huidige toedrag van sake is die feit dat spoorvervoer reeds 'n geruime tyd in duie gestort het in Suid-Afrika, en dit verhoog die padvrag drasties," sê Kelly.
Mangaan
Volgens Botha word 80% van die wêreld se mangaan in Kalaharikom, in die Noord-Kaap vanuit vier myne rondom Hotazel, gemyn. Van die mangaan word na 'n metallurgiese staalverwerkingsfabriek in Meyerton vervoer, die res word na Indië en China deur die hawe van Nelson Mandelabaai, Gqeberha, uitgevoer.
Die Ngqura Hawe
Die Ngqura-hawe, 20 km noordoos van die Gqeberha-hawe, is die enigste hawe wat sedert 1976 toegerus is om mangaan te laai. Dit is ook die enigste hawe wat deur seeverkeer gebruik kan word wat te groot is om deur die Suezkanaal te vaar. Op hierdie stadium hanteer hierdie hawe ses miljoen ton mangaanvragte per jaar, maar met opgraderings tot 2028 word 22 Mtpa in vooruitsig gestel.
Kostes van padongelukke
"Tot op datum is daar net een analise gedoen om die kostes van padongelukke te bepaal, hierdie ondersoek is deur die Padverkeer-bestuurskorporasie in 2015 afgehandel," sê Botha.
"Die totale koste van voertuigongelukke in Suid-Afrika, het in 2015 'n bedrag van R142,95 biljoen gekos, wat 3,4% van ons land se huishoudelike finansies beloop het. In 2015 het 'n totaal van 824 431 ongelukke plaasgevind wat verantwoordelik was vir 11 144 noodlottige motorongelukke, terwyl 40 117 as ernstige ongelukke geklassifiseer is, 132 609 as ligter ongelukke, 648 560 ongelukke wat slegs voertuigskade tot gevolg gehad het, is aangemeld," lees die verslag.
"Met spesifieke verwysing na die laaste maand is dit duidelik dat daar tans op 'n weeklikse basis ongelukke op die N10-roete aangemeld word, en dat swaar voertuie en/of mangaantrokke vir 88% van hierdie ongelukke betrokke," sê Botha.
Dié parkeerruimtes voor die NG Moederkerk in Cradock word daagliks deur mangaan- en ander trokke gebruik. Begrafnisgangers en huweliksgangers moet sekerheidswagte huur om van vroegoggend dié parkeerruimtes op te pas, as hul deur die dag van die kerk se hoofingang gebruik wil maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’