GRAAFF-REINET NUUS — Hoër Volkskool-leiers, Lara du Plessis en Inge van Rooyen, het die pas afgelope Saterdagoggend, 18 November, die tee by die Beskermde Werksplek te Graaff-Reinet bygewoon.
Daar was ongeveer 50 gaste by die geleentheid.
Met die leerders se aankoms het hulle eers deur al die verskillende werksplekkies geloop en so kon hulle sien hoe daar gewerskaf word in die verskillende afdelings.
Die Beskermde Werksplek het, onder andere, 'n houtwerk- en naaldwerk-afdeling en het die leerders meer hieroor uitgevind tydens die toesprake wat met die tee gelewer is.
Hier is die leerders ook verwittig dat die Beskermde Werkplek afhanklik is van donasies en dat hulle unieke handgemaakte items op verskeie verspreidingspunte in die dorp verkoop.
Dié twee leerders was voorwaar verras om tydens die verrykende oggend te sien hoe gelukkig en trots die werkers op hul handewerk is.
"Dit is beslis die moeite werd om daar ‘n besoek te gaan aflê," meen Du Plessis. "Die handwerk is onweerstaanbaar."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'