RUBRIEK - Granaat in die hand en knipmes in die sak daag ek slaggereed op by oom Klaas vir die gesels oor 'n vrou in granaat. Hy stel nie teleur nie; val sommer eietyd weg:
"Jong, om vir granaat te kry tot by die punt waar jy die pitkos kan eet, is soos om 'n vrou die hof te maak: elke man het sy eie plan.
"Daar's vele planne – van byt hom 'n gat in en grawe hom uit soos 'n aap maak, tot by begin op 'n naat wat wil oopbars. En dan is daar die amper wetenskaplik uitgewerkte disseksie-metode van kerf hom hier en klop hom daar. Watter plan 'n man het, is sy keuse, maar wat saak maak, is dat hy dit moet geniet en dit met oorgawe moet doen. Vir my is 'n man se manier van by die pitkos uitkom, netso deel van granaat se eet as die eet self. Jy weet, soos om 'n interessante vrou te leer ken – die hoe is net so belangrik soos die wat.
"Die enigste ding waarvoor jy moet ligloop, is die mors van die sap. 'n Granaat se sap vlek jou hemp sommer lelik, hoor. En dan moet jy 'n mes se metaal weghou van die sap af, anders loop jy vir dae rond met gevlekte hande. Maak 'n granaat seer dat die sap loop, dan kan jy maar weet jy sal iewers sit met 'n vlek wat nie sommer verdwyn nie. En dis hoekom man-man sy eie plan moet hê – jou granaat, jou plan, jou manier. Jý mors die pitte stukkend dat die sap spat, jý sit met die vlekke. Selfde met 'n vrou: skend haar eer, stel haar teleur, maak haar seer en kyk maar wat gebeur.
"Vir my is die interessantste manier om granaat se blomkant in 'n sirkel oop te sny. Nou, as jy hom reg vang, dan sny jy daar deur die harde skil en die vlees, maar jy maak nie 'n pit seer nie en jy sny hom presies net waar jy die pitte kan sien. Dan trek-trek jy daai dop wat jy so oopgesny het, versigtig weg. Want DAN sien jy mos hoe 'n granaat aanmekaargesit is.
Kompleet nes 'n ster nogal met vyf punte, kan jy glo. Is dit dan nie magies en majestueus nie? Nou kan jy sien in die middel sit die wit stam met die vyf verdelings en dan in elkeen is die pitkos netjies ordelik styf teen mekaar gerangskik.
"Ek wil nou nie praat oor hoe ek dan verder maak om die granaat oop te kry nie, maar ek sal vir jou sê daai kraakgeluid wat die granaat maak wanneer jy hom van daar af oopmaak, is diep mooi. Belofte. Dis wat dit is. En om dan die ragfyn wit vlesies so van elke kamer weg te trek, is soos 'n sluier wat jy weglig ... om die mooiste gesig te openbaar. Dieprooi. Soet. Pitkos.
Die manier wat die pitte binne-in die granaat inpas, bly verwonderend verstommend ... elkeen uniek.
"Om versigtig 'n pitjie te kies en hom saggies los te wikkel en dan daai enkel-pit te byt. Man, daai kraakvars losskiet van die sap wat in jou mond ontplof en die effe harde wit pitjie in die middel ... hmmm, dit bly altyd 'n belewenis.
"En SO is die lewe saam met my Dina: elke dag nog 'n geleentheid om pitkos te ontdek, te proe en te geniet; elke dag 'n vars verrassing."
Oom Klaas grinnik ingenome: "En die seg ek jou: kies die regte granaat en maak hom reg oop; en jy het 'n leeftyd vol verrassings wat jou aandag sal boei. Want onthou, die Skepper het granaat vir die man gemaak om vir vrou te probeer begryp."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’