WILLOWMORE NUUS - Willowmore is in 1874 gestig nadat dit begin het as 'n handelspos op die plaas, The Willows, en lê aan die voet van die Aasvoëlberg.
Waar die naam van die dorp vandaan kom is nie heeltemal seker nie, maar sommige beweer die dorp is na William Joseph Moore, wat die plaas, The Willows besit het, vernoem. Die dorp is ook op dié plaas uitgelê.
Die meer romantiese weergawe is dat 'n boer, Luhmkuhl, sy vrou, Petronella Catherina Moore, se van (Moore) met die groot wilgerboom wat naby aan hulle huis gestaan het, gekombineer het (Willow + Moore).
Vir baie jare was boerdery die hoofbron van inkomste vir diegene wat in die gebied gewoon het en sedert die laat 1900's is dit een van die grootste sybokhaar produserende gebiede in die wêreld. Dié dorp is een van die min areas in die gebied wat nie oor water bekommerd hoef te wees nie, aangesien volop water voorsien word deur boorgate op die naby geleë plaas, Wanhoop, 26 km van die dorp.
Selfs al word Willowmore beskou as die westelike poort na die baie gewilde Wêrelderfenisgebied, die Baviaanskloof, is dit ook beslis 'n bestemming in eie reg.
Daar is talle historiese besoekpunte, interessante winkeltjies, goeie gehalte eetplekke, pragtige tuine en vriendelike mense wat dit sowaar 'n plesier maak om die dorpie te besoek en verken.
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'