ABERDEEN NUUS - Die bekende motivering-spreker en pretprater Elsabe Aldrich het op 17 November gaste met twee optredes by die viering van die 10de bestaansjaar van die alombekende Kamdebo Padstal, een van Aberdeen se landmerke, vermaak.
Die oggendpraatjie by die Aberdeen-klubhuis, met die tema 'Die lekkerte van vrouwees', was uitsluitlik vir die skoner geslag. Kamdebo Padstal se eienaar, Hannelie van der Westhuizen se seun, Dirk, was as seremoniemeester die enigste haan onder die henne, en sy ma se regterhand en steunpilaar.
Aldrich se openingswoorde aan die sowat 80 vroue was: "Laat daar nie eendag van ons gesê word: Onoopgemaak teruggestuur nie.
"Laat ons voluit lewe sodat ons oopgemaak en opgebruik by die finale prysuitdeling aankom."
Die aandsessie, 'Lag 'n slag', was oop vir almal en het lekker biefstuk en skyfies ingesluit.
Van der Westhuizen het gesê dat Aldrich 10 jaar gelede die eerste keer in Aberdeen opgetree het en dat sy sewe jaar laas daar was. "Sewe jaar is hopeloos te lank. Ons hoop om Elsabe meer gereeld te nooi."
Die vroue luister na Elsabe Aldrich se boodskap.
Kamdebo Padstal sê dankie vir 10 jaar se steun.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'