GRAAFF-REINET NUUS — Die haglike toestand van die strate in Bergendal het inwoners keelvol.
“Ek dink nie daar is ‘n straat in die woonbuurt wat nie ‘n slaggat in het nie,” het 'n inwoner van Louis Trichartlaan Dinsdag gesê.
Behalwe vir slaggate, wat met die onlangse reën soos paddastoele orals opgeduik het, is die toestand van sypaadjies ook besig om ‘n kopseer te word.
Geroeste en gebreekte padtekens wat nie herstel word nie hou ‘n verdere bedreiging in vir motoriste.
Inwoners van dié woonbuurt is dit eens - die toestand van die paaie en strate is lankal verby die kritieke merk en dring daarop aan dat die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit moet optree.
In Gerrit Maritzlaan moet inwoners teen ‘n kruipspoed bestuur, en in Louis Trichartlaan is daar bloot net nie meer plek om te bestuur sonder om deur ‘n slaggat te ry nie. In sekere strate is die teerpadoppervlakte besig om in 'n grondpad in te verander.
Die swak toestand van sypaadjies is ook ‘n groeiende bekommernis - die onkruid is besig om oor te vat en kruip die doringbosse al in die pad in.
Die Advertiser het die munisipaliteit se bestuurder, Dr Edward M Rankwana, genader en gevra om dringend kommentaar te lewer.
Hy is spesifiek gevra wat die munisipaliteit se planne tans is om die slaggat-probleem aan te spreek. Verder is hy ook gevra rondom die munisipaliteit se beleid insake die sypaadjies in die area.
In 2016 het die munisipaliteit aan die Advertiser gemeld dat die regmaak van die strate in Bergendal deel van die munisipaliteit se beplanning vir die 2016/17 was.
Intussen het daar nog niks gerealiseer nie en is die area se inwoners, wat daagliks deur tientalle slaggate moet ry, keelvol.
Teen druktyd het die Advertiser nog geen kommentaar van die munisipaliteit ontvang nie.
In Louis Trichartlaan - waarin 'n paar besighede geleë is - kan motoriste nie meer die slaggate mis nie.
Slaggate is volop in Gerrit Maritzlaan in Bergendal. Hier is 'n foto van 'n paar van hulle kort voor 'n gedeelte van die pad wat verlede jaar opgeknap is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'