GRAAFF-REINET NUUS - Die omstandighede by 'n huis in Queenstraat, op Graaff-Reinet, wat op 21 Maart tydens 'n brand beskadig is, het inwoners van dié area bekommerd.
Die area rondom die huis het in 'n broeiplek vir misdaad ontaard wat die gemeenskap se lewens en eiendom in groot gevaar stel. Talle inwoners het reeds hul kommer uitgespreek oor die aktiwiteite by hierdie huis, en ook ander huise in die omgewing wat deesdae deur die karakters wat daar uithang geteiken word.
Die betrokke huis is al heeltemal gestroop en volgens 'n Queenstraat-inwoner het hulle onlangs selfs sover gegaan om nog 'n gedeelte daarvan af te brand.
Buks Kleynhans, van die Graaff-Reinet-buurtwag, sê hulle het hul hande vol met die situasie.
"Die huis is 'n trekpleister vir misdadigers. Niemand is meer veilig nie en dit is net 'n kwessie van tyd voordat iemand seerkry."
Volgens Kleynhans het die polisie hom in kennis gestel dat hulle niks kan doen alvorens daar nie 'n saak deur 'n klaer aanhangig gemaak word nie. Kleynhans is egter van mening dat die polisie as entiteit van die staat self as klaer kan optree indien daar 'n misdryf in hul teenwoordigheid, of waarvan hulle bewus is, gepleeg word.
Luitenant Kolonel Nadia Nel van die Graaff-Reinet-polisie, verduidelik dat die polisie nie kan optree indien daar nie 'n klaer is nie, maar dat hulle wel by magte is om op te tree indien 'n misdaad in hul teenwoordigheid gepleeg word.
Die huis in Queenstraat wat onder inbrake en vandalisme deurloop. Foto: Chriszanne Janse van Vuuren
"Indien die eienaar van die perseel nie 'n saak aanhangig maak nie is hul hande ongelukkig afgekap omdat hulle nie namens die eienaar van 'n perseel 'n saak mag maak indien die misdaad nie in hul teenwoordigheid gepleeg is nie.
"Eweneens kan geen inwoner 'n saak teen 'n beweerde misdadiger maak indien die misdaad op iemand anders se perseel gepleeg word nie. 'n Inwoner kan slegs 'n saak maak indien die misdaad op sy of haar eie perseel gepleeg is. Dit is egter elke inwoner se plig om die polisie onmiddellik in kennis te stel indien daar 'n misdaad op iemand anders se perseel gepleeg word sodat die oortreder op heterdaad betrap en in hegtenis geneem kan word."
Volgens Nel dra die polisie deeglik kennis van die krisis by die huis in Queenstraat.
"Die perseel word tans gemonitor deur alle eenhede in Graaff-Reinet, maar ons het "all hands on deck" nodig. Hoe meer hulp ons van alle moontlike entiteite kry, hoe vinniger sal die probleem hok geslaan word."
Die publiek moet bereid wees om alle inligting aan die beheerkamer deur te gee sodat die polisie kan optree. Inwoners word ook aangemoedig om sake te maak wanneer die aktiwiteite by die betrokke perseel oorspoel na hul persele.
"Ons het absoluut die publiek se samewerking nodig om hierdie krisis doeltreffend aan te spreek."
Die eienaar van die huis, wat homself tans in Dubai bevind, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Die toestand van die huis in Queenstraat. Foto's: Hans Pieterse
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'