HOFMEYR NUUS - "Ek eet graag rissies en geniet dit," was die antwoord op 'n vraag aan Rudolph Opperman, nadat hy as die 'Bay Chillie Champion' aangewys is.
Rudolph, (29) is 'n boorling van Hofmeyr en 'n oudleerder (Reier) van Marlow Landbouskool in Cradock, waar hy in 2010 gematrikuleer het.
"Ek het as student by NMU kennis gemaak met rissies en kort voor lank was dit deel van my gereelde dieet."
Bay Chillies (vroeër bekend as Strawberry World in Port Elizabeth), het op Paassaterdag 'n kompetisie gehou om die Bay Chillie-kampioen aan te wys. Altesaam agt manne en twee vroue het die uitdaging aanvaar.
'n Verskeidenheid van rissies, waaronder Jalapeno (hittegraad van 200 000), twee van Zim Bird’s Eye (met ‘n hittegraad van 200 000 elk), Sugar Rush Peach-rissie (80 000), KS Thai (100 000), Rooi Habanero (250 000), Chocolate Habanero (250 000), Ghost (1.1 mil), Moruga Scorpion (1.5 mil), Dorset Naga (1.3 mil) en die Carolina Reaper-rissie (2.2 mil), moes gekou en gesluk word.
Beoordelaars het seker gemaak dat geen vloeistof tussenin geneem word nie en daar is ook toegesien dat elke rissie gesluk is voor die volgende rissie geneem kon word.
Rudolph Opperman het sewe ander mans en twee vroue geklop om die titel as PE se Bay Chillie-kampioen in te palm.
Die deelnemers kon opstaan en melk drink sodra hulle voel dat hulle nie meer hitte kon hanteer nie. Twee deelnemers het egter vasgebyt tot op die einde en daar moes ‘n verdere drie rissies deur elkeen van hulle geëet word om die wenner te bepaal.
Opperman kon eerste klaarmaak en het die trofee en kontantprys verower. Hy het, in tipiese Hofmeyr-styl, die ekstra bydraes wat deur toeskouers gemaak is, aan sy naaswenner oorhandig.
"Dit was immers net een rissie wat my as wenner onderskei het," het hy ná afloop van die kompetisie gesê. Op navraag oor die nagevolge van so ‘n klomp rissies, het hy gesê hy was na 'n uur gereed vir 'n lekker ete. "Direk na die kompetisie het ek 'n liter melk en 'n liter jogurt geëet om die ergste brand te kanselleer."
Die volledige video’s van die kompetisie is op die Faceblook-blad van Bay Chillies te sien.
Rudolph Opperman het sewe ander mans en twee vroue geklop om die titel as PE se Bay Chillie-kampioen in te palm.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'