GRAAFF-REINET NUUS - Die ontevredenheid oor die tekort aan onderwysers by skole in Willowmore duur steeds voort.
Sommige inwoners is veral omgekrap omdat een van Elmore Primêr se twee onderhoofde onlangs na William Oates Primêr in Somerset-Oos geskuif is.
Dit ten spyte van die huidige tekort aan onderwysers by Elmore Primêr.
Zola Menze, voorsitter van die EFF in Willowmore, verduidelik dat daar twee onderhoofde by Elmore Primêr was, juffrou JH Davids en meneer Johny Boesack. Die departement het nou besluit om Davids te herontplooi ongeag daarvan dat Boesack reeds 64 jaar oud is en binnekort moet aftree.
Menze is van mening dat die herontplooiing glad nie sin maak nie.
"Die skool kon dan nie eens oopmaak aan die begin van die jaar nie, omdat daar nie genoeg onderwysers was nie. Die situasie het nog glad nie verbeter nie," sê Menze.
"Op die oomblik is die klasse oorvol, daar is tussen 38 en 50 leerders in elke klas. Sommige klasse het glad nie eens onder-wysers nie, dit word deur op-voedkundige assistente beman wat net toesig hou en glad nie onderrig kan gee nie."
Ouers van Elmore Primêr het 'n petisie begin teen Davids se herontplooiing. Die petisie is by verskeie winkels in Willowmore neergesit sodat almal dit kon onderteken. Boesack het dit egter gevat en opgeskeur. Boesack erken dat hy die petisie opgeskeur het. Hy verduidelik dat hy dit gedoen het omdat daar vir hom gesê is dat sy naam daarin verskyn. Eers nadat hy dit klaar opgeskeur het, het hy agtergekom sy naam is nie daar nie. Hy sê egter dat hy glad nie spyt is dat hy dit opgeskeur het nie.
"Volgens die petisie word die herontplooiing van juffrou Davids deur die ouers teengestaan. Ek dra geen kennis van enige ouervergadering waar hierdie besluit geneem is nie. Indien daar wel so 'n vergadering was is die ouers en onderwysers van die skool se beheerliggaam glad nie geken in die saak nie."
Hy noem dat sommige ouers by hom kom kla het omdat die kassiere by die winkels glo vir hulle gesê het dat hulle die petisie móét teken. Juis daarom het hy gaan ondersoek instel, op die petisie afgekom en dit opgeskeur.
Boesack sê hy dra kennis van die betrokke EFF-verteenwoordigers se ontevredenheid oor die tekort. Hy is egter van mening dat hulle die situasie probeer politiseer.
Volgens hom het die skoolbeheerliggaam hierdie EFF-verteenwoordigers na 'n vergadering genooi om die situasie te bespreek, maar hulle het nie opgedaag nie. Boesack stem saam oor die onderwyserstekort en dat die herontplooiing 'n verdere tekort tot gevolg het.
Dit is egter buite die skool se beheer omdat die departement besluite oor herontplooiing maak. Die besluit om te herontplooi word gewoonlik op getalle gebaseer en op hierdie stadium het Elmore Primêr nie genoeg leerders om twee onderhoofde te regverdig nie.
Die besluit rakende watter een van die twee onderhoofde herontplooi moet word, word gemaak deur die profiele van die betrokke onderhoofde te oorweeg. Boesack se profiel het beter by Elmore Primêr gepas terwyl Davids se profiel beter by William Oates Primêr gepas het.
Menze is egter van mening dat dit baie onregverdig teenoor Davids is, veral omdat sy 'n boorling van Willowmore is.
Verder is Menze ook bekommerd dat die omstan-dighede by die skole moontlik sal veroorsaak dat kinders nie meer wil skoolgaan nie. Dit sal 'n geweldige groot impak op sosiale vlak hê omdat die kanse groot is dat hulle dan by verkeerde dinge betrokke sal raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’