JEFFREYSBAAI NUUS - Veertig Helpende Hand afgevaardigdes vanuit 21 Oos-Kaapse takke het die afgelope naweek by Seaviews in Jeffreysbaai saamgetrek vir hul jaarlikse streekvergadering.
Boodskappe vanaf Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is voorgelees en 'n videoboodskap is ook aan afgevaardigdes voorgehou.
"God roep jou en Hy hou altyd jou hand vas. Volg Sy roeping, doen Sy werk in jou gemeenskap. Die nuwe gebruik van afhanklikheidskepping maak mense subtiel afhanklik van staatshulp en hou hul in 'n wurggreep van armoede. Moenie armoede in stand hou deur jou werkswyse nie, bou mense op, begin by God. Hy bou jou op. Ons doen nie goeie dade om gered te word nie, ons is reeds gered, daarom doen ons goeie dade. Elkeen moet op sy eie plek, ploeg, plant en deur sy eie insette, ook pluk. Soms sukkel elkeen van ons, maar God help jou om uitdagings te hanteer."
René Roux, adjunk uitvoerende hoof van Helpende Hand het verskeie spreekbeurte namens Helpende Hand hanteer.
"Helpende Hand se vrywilligers is sterk.
Sterk vrywilligers ontwikkel sterk gemeen-skappe. Oor die afgelope boekjaar het alle onderafdelings by Helpende Hand gegroei en verdiep. Maar moenie terugsit en ontspan nie. Wanneer jy dink dit gaan goed, sit skouer aan die wiel en laat dit beter gaan."
Die twaalf punte van normaliteit, soos uitgelig deur Flip Buys van Solidariteit, word ook aan afgevaardigdes genoem.
Marlene Basson, streekkoördineerder van Oos-Kaap en KZN-Suid-streek, het die VroueFonds-dagboeke vir 2023 bekendgestel. Helpende hand bemark ook sokkies met helpende handjies daarop.
Die maatskaplike verslag, wat na aanleiding van in diepte navorsing opgestel is, is deur Lize van Zyl, streekmaatskaplike werker, Adelé Wright, kliëntediensbestuurder en Marthie Maritz, maatskaplike hulpwerker, bespreek.
Afgevaardigdes het ook die geleentheid gehad om hul eie projekte te beplan en voor te lê. Daar was nie 'n tekort aan vars, nuwe idees nie en spanne het puik saamgewerk om behoeftes in hul gemeenskappe aan te spreek.
Die geleentheid is afgesluit deur gasspreker René Roux se groeteboodskap.
"Leef in Hoop. Vind jou plek, plant, ploeg en pluk ongeag wat in jou eie lewe gebeur."
Van links is Tanya Venter, René Roux, Marietjie Rohlandt en Rens Aggenbach.
Van links is Marie du Preez (Ons Winkel Despatch), Lizan Burger (Ons Winkel Somerset Oos en Cradock), Marius Rossouw (Uitenhage-tak), Ellen Nel (Lady Grey-tak), Linda Holzhauzen (Jeffreysbaai-tak).
'Ons bring jou die nuutste Oos-Kaap nuus'