GRAAFF-REINET NUUS - Hulp stroom steeds in om die nooddiens-helikopterdek langs die Graaff-Reinet forensiese patologiese-eenheid in stand te hou.
Vir bykans 12 jaar was die helikopterdek, vanwaar Midland-hospitaal se pasiënte na Port-Elizabeth gevlieg word, in onbruik. Sakelui het gedurende Mei en Junie 2019 ingegryp en die dek begin herstel.
Voortdurende instandhouding is egter noodsaaklik om te verseker dat die noodhelikopter veilige landings kan uitvoer.
Greg Bosch, direkteur van Ikholo Civils en sy personeel, het Vrydag 13 Maart gratis ingespring en die dek, asook omliggende gebiede se gras gesny en bebosde areas skoongemaak.
Bosch het dit as gemeenskapsdiens beskryf. "Mens weet nooit wanneer is dit jou beurt om in 'n noodsituasie die helikopter en personeel se diens te benodig nie."
Bosch het sy werkers van harte bedank vir hulle hulp sonder vergoeding. "Dankie manne. Ek maak staat op julle," het hy gesê.
Greg Bosch en Johnny du Plessis hard aan die werk.
Die Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit het in Mei 2019 erken hulle het nie geld om die dek in stand te hou nie.
Die erkenning het gevolg na 'n nooddiens-helikopter nie naby die hospitaal kon land nie. Die Polisie-akademie was eers die aangewese plek, maar die bestuur het verdere landings op die gronde verbied.
Na die dek opgeknap is, is die eerste landing op 2 Julie verlede jaar op die helikopterdek uitgevoer, toe 'n pasgebore baba dringend na Livingstone Hospitaal in Port-Elizabeth gevlieg is.
Ikholo Civils se personeel, wat sonder vergoeding die helikopterdek skoongemaak het, is Royeden Jantjies, Warick Oormeyer, Calvin le Grange, Johnny du Plessis, Greg Bosch, Ashwin Spogter, Micheal Pieterse en Ralph Persensie.
In short:
Help continues to stream in to maintain the emergency service helicopter landing pad next to the Graaff-Reinet forensic pathology unit.
The pad, from where Midland Hospital’s patients were flown to Port Elizabeth, was in disuse for nearly 12 years. Businessmen intervened during May and June 2019 to repair it.
However, continuous maintenance is essential to ensure that a emergency helicopter can perform safe landings.
Greg Bosch, director of Ikholo Civils, and his staff jumped in free of charge on Friday, March 13, to maintain the pad, and cut grass and bushed areas surrounding it.
Bosch described it as a community service. "You never know you might need the helicopter and personnel in an emergency."
Bosch thanked his workers for their help without compensation. "Thank you, guys. I rely on you," he said.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'