MIDDELBURG NUUS - Elviro Padda (36), een van die Wilhelm Stahl Hospitaal in Middelburg se dokters, is Maandagaand, 2 September dood in 'n motorongeluk. 'n Onbekende persoon is ook in die ongeluk dood en nog 'n onbekende persoon beseer.
Kaptein Lariane Jonker, woordvoerder vir die Middelburg-streek se polisie, het Dinsdag gesê die ongeluk het omstreeks 6.30pm Maandag op die Cradockpad, rigting Cradock, plaasgevind.
"Die voertuig het die pad 50km vanaf Middelburg in die rigting van Cradock verlaat, omgeslaan en uitgebrand," het Jonker aan die Advertiser gesê.
Sy het bevestig dat die bestuurder uitgeken is as Padda. "Geen inligting oor die passasiers is beskikbaar nie," het sy bygevoeg.
By die Willem Stahl Hospitaal, waar Padda vier jaar gewerk het, en in die Middelburg-omgewing, is mense in rou oor sy dood. Die Hospitaalbestuurder, Johanna Rautenbach, het aan die Advertiser gesê sy en die personeel kan nou nog nie oor die skok kom nie. Sy het Padda as 'n vredeliewende, saggeaarde mens beskryf.
Volgens Rautenbach het die gemeenskap Padda as 'n potensiële dokter geïdentifiseer en sy studies in Kuba moontlik gemaak. Hy laat sy vrou en twee seuns van vier en 14-jaar-oud na.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'