TARKASTAD NUUS - Die Tarkastad gemeenskap het met groot hartseer verneem van die heengaan van ’n geliefde inwoner, die 62-jarige Elrina van der Vyver.
Elrina was die plaaslike apteker, en het menige sieke met deernis bygestaan. Van boudesalf, koliekmedikasie tot ‘n ietsie vir die vergeetagtigheid, het sy oor die toonbank gegee.
Elrina is op 23 Junie 1958 in Hofmeyr gebore , en voltooi ook haar skoolloopbaan daar. Sy is die hoofdogter van Hofmeyr Hoërskool tydens haar matriekjaar in 1976. Van haar medeleerders onthou haar as ‘n saggeaarde en liefdevolle klasmaat. Ian Edwards meld op facebook: “Ek het nooit weer in my lewe iemand met so ‘n geaardheid ontmoet nie. Die saggeaardste mens met ‘n hart vir ander. Mag sy in vrede rus.”
Nadat sy haar opleiding as Apteker voltooi het, was sy vir ‘n paar jaar op Cradock werksaam by P.Ochse Apteek. Dit is ook tydens hierdie jare in Cradock waar sy haar eggenoot Frikkie van der Vyver ontmoet en in die huwelik tree. Die egpaar het 4 kinders. Frikkie ontval haar egter twee jaar terug op die ouderdom van 58, en sy bly aan in Tarkastad. Haar seun Johan het by haar aangesluit in die apteek.
Elrina het gesterf op 11 Augustus 2020, nadat kanker onlangs by haar gediagnoseer is. Sy laat haar vier kinders en hul lewensmaats, asook ‘n kleindogter, Caitlin, na om haar heengaan te betreur.
Daar is van haar afskeid geneem op 16 Augustus, tydens ‘n deur-ry afskeidsgeleentheid voor haar apteek in Tarkastad.
Haar dood laat ‘n leemte in drie gemeenskappe. In Hofmeyr waar sy grootgeword het en diep spore getrap het, in Cradock waar sy haar loopbaan begin het en in die huwelik bevestig is, en dan laastens in Tarkastad waar sy haar beroep beoefen het, en soveel kosbare menseverhoudings gebou het.
Mag sy in vrede rus.
'Ons bring jou die nuutste Tarkastad, Karoo nuus'