GRAAFF-REINET NUUS — Vreesloos, gerespekteerd en reguit. En as hy eers byt, los hy nie.
Advokaat Gerrie Nel, seker een van Suid-Afrika se bekendste aanklaers, besoek Graaff-Reinet op Donderdag, 10 Augustus.
Tydens die geleentheid sal Freek Robinson hom onder 'kruisverhoor' neem, waarna Nel 'n spreukbeurt sal kry en Afriforum Uitvoerende Hoof, Kallie Kriel, dan by hom sal aansluit op die verhoog vir ‘n paneelgesprek.
Twee leerders, verbonde aan Hoër Volkskool se ATKV Volksmond-jeugtak sal ook deelneem aan dié gesprek - hulle is Justin Gafoor (voorsitter) en Jana
Wagener (onder-voorsitter).
Nel se vervolging van die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, het aan hom wêreldwye roem besorg. Nel se onlangse bedanking uit die Nasionale Vervolgingsgesag om by die burgerregte organisasie AfriForum se anti-korrupsie eenheid aan te sluit, was egter vir talle 'n skok.
Alhoewel Nel vir Jan Publiek vasgenael gehou het voor die kassie met die uitgerekte Pistorius verhoor, was hy natuurlik ook betrokke by Jackie Selebi se vervolging.
Na afloop van dié paneelgesprek sal die lede van die publiek ook die geleentheid kry om vrae aan die paneel en Gerrie Nel te stel.
Die geleentheid - waartydens Freek Robinson met Nel voor die gehoor sal gesels - vind op Donderdagaand, 10 Augustus, om 6nm in die saal by Botanies plaas.
Daar is slegs 'n beperkte aantal kaartjies beskikbaar - bespreek so spoedig moontlik om teleurstelling te voorkom.
Enkelkaartjies is te koop teen slegs R120 en tafels is beskikbaar teen ‘n afslagprys van R1 000 elk (10 gaste per tafel). Dit sluit ‘n ligte aandete in en ‘n kontantkroeg sal beskikbaar wees.
Skakel Hoër Volkskool by 049 891 0514 of besoek die skoolkantoor om 'n kaartjie te bekom. Andersins kan Henry Thomson (ATKV Spandaukop) ook geskakel word vir besprekings en navrae by 082 452 65 65.
Hierdie geleentheid word trots geborg deur die ATKV. Die organiseerders spreek ook graag hul dank uit aan die ander borge: Gerber Botha Gower, Van Wyk Theron en PSG Wealth Insure.
Die aand is moontlik gemaak in samewerking met Afriforum en Hoër Volkskool.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'