STEYNSBURG NUUS - Die Steynsburg-boereunie het pas sy jongooi-kuddekompetisie se toekenningsgeleentheid vir 2022 gehou.
Dié kompetisie het in 2020 'n aanvang geneem toe Steynsburg-boere genader is om elkeen 'n groep van sewe ooilammers in te skryf.
Al dié ooitjies het op een plaas saamgeloop sodat almal aan dieselfde omstandighede blootgestel, grootgemaak en bestuur is.
Met die aanvang van die kompetisie is die ooitjies se wol afgeskeer en oor 'n tydperk van 20 maande is hulle deurlopend geëvalueer.
Elke ooi is drie keer geskeer en elkeen se vagwaarde is bepaal volgens die getoetste mikrons - hoe fyn of sterk die wol is - skoonopbrengs en gewig van die vag.
Daarna is die ooitjies gesinkroniseer vir paartyd en is boere die geleentheid gebied om elkeen sy eie ram te bring om by sy ooitjies te loop.
Die lammers is gemerk met die ooi se kode sodra sy gelam het. Die lammers is geweeg en gespeen op ongeveer 100 dae en 'n waarde is gekoppel aan elke lam volgens die speenlam se vleisprys in daardie stadium.
Die uitslae van die kompetisie was as volg:
Wenner: Hannes en Peter Feurth met R11 235 (R2 247 per ooi per jaar).
Tweede: Karen Cloete met R10 015 (R2 003 per ooi per jaar).
Derde: Wicus en Arnold Bekker met R10 010 (R2 002 per ooi per jaar).
Borge
Die borge wat toegesien het dat die kompetisie suksesvol afloop, was OVK, Skaapskêr Skeerdiens, Skaapskê Cutoms, Oranjerivier Voere, BKB, Quantro Wools en Steynsburg Butchery.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'