NIEU-BETHESDA NUUS - Die skielike dood van Dave Stern (42), bekende boer in die Nieu-Bethesda-distrik, op 29 Julie het die afgelope week skokgolwe deur die Oos-Kaapse gemeenskap gestuur.
Sy roudiens vind op 12 Augustus om 11:00 vanuit die NG kerk in Graaff-Reinet plaas.
Graham Murray, 'n goeie vriend wat saam met hom op skool was, beskryf Stern as 'n merkwaardige mens.
"Sy dood is 'n absolute tragedie. Hy is so gou van almal wat hom liefgehad het weggevat. Dit voel of sy lewe gesteel is."
Stern is aan 'n aneurisma oorlede. Volgens Murray het hy van hoofpyne gekla en het hy 'n paar dae later 'n spesialis in Port Elizabeth gaan sien.
Hy is kort daarna na Kaapstad waar hy 'n operasie ondergaan het, maar is die volgende dag oorlede.
"Hy was 'n passievolle man. Hy was passievol oor sy gesin en ouers en oor die gemeenskap. Hy het uit sy pad gegaan vir mense rondom hom. Hy het vir jare ons plaaslike krieketklub aan die gang gehou. Dave het letterlik 'n passie gehad vir net mooi alles wat hy gedoen het en alles wat hy aangepak het. Ek dink nie iemand het soveel passie soos hy gehad het nie."
Hy het Stern as 'n ware leier, goeie vriend en 'n gemeenskapsmens beskryf.
Stern was 'n geliefde boer, vriend en pa wat deur almal wat hom geken het as 'n ongelooflike mens beskryf word.
Union Preparatory School, Graaff-Reinet, waar hy voorsitter van die beheerliggaam was, het gesê dat sy dood 'n reusegat in die Union-gemeenskap los.
"Die gat sal nooit gevul kan word nie. Sy liefde vir die skool as oudleerder en ouer, saam met sy vasberade sin vir doelgerigtheid, het beteken dat hy sy alles aan die skool gegee het en sy vriendskap, wysheid en toewyding sal deur almal gemis word."
Hy was 'n man wat oral betrokke was. Stern was ook voorsitter van die Sneeuberg-boere-unie en die voorsitter van die Old Unionite Association. Hy het ook spore in die stryd teen anti-hidrolieserotsbreking getrap.
Volgens Justin Kingwill was hulle vriende sedert hulle Sub A in 1986 begin het.
"Hy was 'n uitstaande man wat passievol was oor alles waarin hy geglo het. Hy het veral 'n passie vir Union gehad omdat sy voorouers, hyself en sy kinders daar skool gegaan het. Hy was 'n gemeenskapsmens wat oral betrokke en oral wou help."
Volgens Kingwell was hy voorsitter by die Sneeuberg-boere-unie in die tyd waar die droogte die ergste was.
"Dit het swaar gegaan met die boere, maar hy het hard gewerk om ons almal daardeur te help. Elke NRO wat met hom gewerk het was vol lof vir die man wat hy was en die moeite wat hy gedoen het."
Hy laat sy vrou Maryke, twee dogter, Kari en Macela, pa en ma Doug en Liz en susters Wendy en Diane agter.
Dave Stern
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'