MOLTENO NUUS - 'n Konstruksiemaatskappy het homself oor die inwoners van Molteno en omgewing ontferm en verskeie paaie in die dorp gratis opgeknap.
Van die paaie was onbegaanbaar. Deon Cloete, besigheidseienaar en boer in die Moltendistrik het Maandag aanlyn op die dorpsgroep geskryf: "Ons bedank graag Tau Pele Construction, wat vanoggend die pad voor die skool verby asook die pad voor Siësta Aftreeoord gruis gegooi en geskraap het. Ons waardeer dit opreg dat daar nog mense is wat ons dorp opgradeer."
"Dit was 'n onbegaanbare moddergemors en die ambulans kon nie meer daar ry nie," vertel Magdalena Cloete-Jones.
Verskeie grondstrate in Molteno is geskraap en is nou weer rybaar, en die gemeenskap is diep dankbaar.
Talle voertuie is beskadig deur die verswakte padoppervlak, en erg gevaarlik vir motorfiets- en fietsryers.
Tau Pele Construction is 'n groot konstruksiemaatskappy gesetel in Bloemfontein, wat dikwels in die Oos-Kaap grondverskuiwingswerk doen, en ook verskeie padkontrakte in die Oos-Kaap hanteer.
Mandy Aucamp, besigheidseienaar van Molteno, sê die werk is gedoen as deel van Tau Pele Construction se gemeenskapsprogram, en dat die maatskappy nie deur die munisipaliteit of enige ander party vergoed is nie.
Tau Pele beteken "die leeu loop voor" en in dié geval stel die leeu 'n pragtige voorbeeld.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'