KAROONUUS - Die eerste naweek van Desember is ’n belangrike datum vir enige motorfietsryer in die Oos-Kaap, nie net kondig dit die Lion-motorfietssaamtrek aan nie, maar word 'n jaar ook afgesluit met die laaste saamtrek - sowat 400 motorfietsgeesdriftiges het die naweek bygewoon.
"Die Lion-motorfietssaamtrek is 'n gesinsvriendelike motorfietssaamtrek wat deur die hele familie bygewoon kan word. Vanjaar was dit ook die Lion-motorfietssaamtrek se dertigste bestaansjaar wat dit so bietjie meer spesiaal gemaak het.
Die motorfietssaamtrek het oorspronklik in Cradock ontstaan. Dit het vir drie jaar geskuif as gevolg van swak munisipale dienslewering, maar die Lions-klub van Uitenhage het weer die saamtrek na Cradock teruggebring. Daar is ook vanjaar van die skouterrein as saamtrekpunt gebruik gemaak. Die tradisionele groot wit sirkustent is die jaar vervang deur die Rodney Rayner-skousaal," vertel Gerhard Greyvenstein wat die reëlings in Cradock hanteer het.
Reeds van vroegdag op Vrydag 1 Desember was daar motorfietse op al die roetes van Cradock-omgewing sigbaar en het mense vanoor die land hierdie jaar opgedaag vir die saamtrek. Die bloedige hitte van Vrydag het die kwik tot in die 40°c gestoot, maar nie die geesdrif van die motorfietsryers gedemp nie. Ou vriendskappe is hervat, en nuwes is gemaak.
Op Saterdag 1 Desember, soos oudergewoonte, was dit weer tyd vir die kwartmylwedrenne en die burn outs op die Mortimerpad. Die reuk van gebrande rubber is sinoniem met die vermaak en die swart sirkels op die teer is die enigste sigbare nalatenskap van baie pret.
Daar was ook ‘n vertoongang gebou waar die manne kon spog met hul duur ysterperde. Die musiekgroep, Michelle & Deon, het gesorg dat die feesgangers op hul voete bly met topgehalte musiek.
“Die naweek kan as uiters suksesvol beskou word. Geen ernstige voorvalle of beserings is aangemeld nie. Daar is wel sprake dat Cradock weer as tuiste vir dié saamtrek gebruik sal word,” deel Greyvenstein mee.
Bokkie en Marie Oberholzer is sinoniem met die Lion-motorfietssaamtrek.
Clinton Saddler met sy ysterperd in die kroeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’