GRAAFF-REINET NUUS - Ondersteuners, afrigters, spelers, almal is opgewonde om weer die skouspel wat jaarlikse interskole oplewer te kan aanskou.
Na twee jaar van inperking sal talent, vaardighede, spanwerk en individuele briljantheid van sportleerders weer gesien kan word.
'n Geleentheid wat almal met groot opgewondenheid en afwagting na uitsien.
Atlete, spelers en afrigters het intens voorberei vir die kragmeting.
Ouers, oudleerders en ondersteuners is in groot afwagting op die trotse gebeurtenis. Die vertroue is dat elke span en speler beloon sal word volgens hul insette, moeite en opofferings.
Goeie en deeglike voorbereiding is altyd 'n basis vir sukses en oorwinning.
Kompetisie en intensiewe mededinging ontbloot somtyds karakter - mag dit wees dat net die goeie en die beste na vore sal tree. Sterkte en voorspoed aan almal wat deelneem.
Verteenwoordig u skool met trots, waardigheid, eer en respek.
E Mackelina,
Skoolhoof
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'