HOFMEYR NUUS – Ds. Marius Barnard, die voorsitter van Hofmeyr Hugs of Hope, is in beheer van die opruimingsaksie wat elke dag in Hofmeyr plaasvind.
Swart sakke met vullis, kartonne, plastiese bottels, weggooidoeke en papiere, asook vragte koeldrankblikkies, is van die gemors wat Barnard, 'n vriend, Barend Opperman, en nog drie werkers daagliks opruim.
"Hierdie aksie beloop ons 'n hele paar rand, maar dit is ongelukkig die enigste manier waarop ons kan verseker dat ons dorp skoon en netjies is," sê Barnard.
'n Geringe bydrae van Hofmeyr Hugs of Hope en hulp van die gemeenskap help met kostes, maar om groter projekte van stapel te stuur, is meer geld nodig.
"Ek is dankbaar vir die samewerking wat ek vanuit verskeie oorde kry, maar dit sal help as meer fondse beskikbaar is om ons werkers ordentlik te vergoed vir wat hulle doen. Die plaaslike munisipaliteit het besluit dit is my werk, en raak geensins betrokke by die skoonmaak van strate nie, al word die kostes elke maand op elke inwoner se munisipale rekening aangebring.
Blikkiepers
"Ek is opgewonde dat sakemanne soos Pat en Donovan Downey voortdurend insette lewer, en aktief betrokke is om te help," sê Barnard, pas nadat hy en sy span 'n self-ontwerpte blikkiepers van die twee eienaars van Victory Motors op Hofmeyr ontvang het.
"Hierdie toestel verrig wondere om koeldrankblikkies plat te druk, sodat dit opgegaar kan word vir herwinning."
Barnard het die gemeenskap versoek om koeldrankblikkies te hou en dit Sondae by die kerk af te gee. Hy is ook op soek na 'n blywende oplossing vir die massiewe probleem wat tweeliter-koeldrankbottels in die dorp en omliggende woonbuurte veroorsaak.
"Ekostene is 'n oplossing, maar dit is arbeidsintensief, en wie gebruik nou regtig die gevulde plastiese bottels? Enige lid van die gemeenskap wat ons kan help om 'n oplossing vir hierdie probleem te vind, moet asseblief met my kontak maak," het hy versoek in die kerk se weeklikse nuusbrief.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'