KAROO NUUS - Hoe dikwels gebeur dit dat die maand te lank raak vir die geld in jou beursie.
"Ons vind dat mense regoor Suid Afrika hul Sassa-fondse misbruik en dan die laaste twee derdes van elke maand in absolute haglike omstandighede oorleef," sê dr. Khaya Tshabalala van die IMIJELO-stigting.
Dr. Tshabalala het pas begin met opleiding aan Sassa-afhanklikes in die Hofmeyr-omgewing om hul beter finansiële bestuur te leer. Sy maak gebruik van talle kleurvolle uitdrukke om aan die persone wat die opleiding bywoon, te verduidelik hoe vinnig geld, wat nie volgens 'n begroting bestee word nie, uit 'n beursie verdwyn.
Die opleiding op Hofmeyr word gehanteer deur die instansie Hofmeyr Hugs of Hope, wat ook die lokaal verskaf waar daar aanvanklik met slegs een persoon op 'n slag deur sy of haar finansiële situasie gegaan word.
Dr. Tshabalala stel 'n volledige verslag op vir IMIJELO, wat dan 'n opleidingsmodule skryf vir elke dorp om die knellendste probleme te bespreek.
"Ek is reeds vir jare besig om groepe regdeur Suid-Afrika te onderrig in finansiële bestuur en kan met groot dankbaarheid getuig dat massiewe insette van elke deelnemer nodig is om die projek suksesvol van stapel te stuur.
"Elke afhanklike wat inskryf vir die opleiding moet 'n reuse-paradigmaskuif maak om tot die besef te kom dat die finansies wat hy of sy maandeliks ontvang, regtigwaar die enigste beskikbare geld in die hand is. As dit dus vermors word binne die eerste twee dae nadat dit ontvang is, is dit verlore," vertel sy tydens die onderhoud.
"Diep in die Oos-Kaapse platteland is 'n klein nedersetting met slegs 85 huishoudings en IMIJELO kon met hul insette hierdie 85 huishoudings oortuig om hul finansies met groot sukses te bestuur, soveel so dat hul saam 'n spaargroepie gestig het.
"Hierdie spaargroepie het so pas die skoolterrein opgegradeer en speeltoerusting opgerig. Die toerusting is meestal herwonne bande en ou voertuie, maar elke artikel is met helderkleurige verf verfraai en die gemeenskap voel nou skatryk.
"Ek glo dit is die groepsgebondenheid van so 'n gesamentlike groep wat groot hoogtes kan bereik."
Dr. Tshabalala is 'n absolute inspirasie wanneer sy met groot opgewondenheid vertel van alles wat reeds bereik is wanneer mense leer om hul geld korrek te bestuur. Sy kan ook onderhoudend gesels oor die moontlikhede wat bestaan wanneer bande gebreek word met kontantskieters, skoppers en ‘cash loans.'
Dr. Tshabalala is tans besig om haar tweede doktorsgraad aan die Universiteit van Ford Hare te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'