CRADOCK NUUS - Die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in Cradock het vandeesweek begin om die dennebome in JA Calatastraat af te kap.
"Maar hierdie bome behoort egter in die winter afgesaag te word, sodat nuwe groei in die somer kan vestig," deel Tracey Michau, bekende selfversorgende boer van Cradock mee. "Dit is egter broeityd vir die bosluisvoëls (beesreiers) wat jaar-na-jaar hier kom broei."
Tracey is reeds vir jare betrokke by fauna- en florabeskerming.
"Boomtakke het oral gestrooi gelê en massas babavoëls, bekend as die bosluisvoël, het oral sterwend gelê. Toe ek daar opdaag het kinders selfs daarmee gespeel en die dooie kuikens geskop asof dit sokkerballe is. Die bosluisvoël Cattle Egret is ook 'n beskermde voël in Suid Afrika. Ek het dadelik begin om kuikens bymekaar te maak en aanvanklik het ek geen hulp gekry nie.
Die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in Cradock het vandeesweek begin om die dennebome in JA Calatastraat af te kap waarin waarin bosluisvoëls besig was om te broei.
"Desiree Lotter het later by my aangesluit en ons het so vinnig as wat ons kon, die kuikens opgetel. Werkers het in geen stadium enige poging aangewend om op te hou om die bome te verniel nie."
"Voertuie het ook oor die kuikens, in verskillende stadiums van groei gery, en ek kon gelukkig 'n swembadnet by Lisa Kerr leen om oor my bakkie te span. Sy het ook by ons aangesluit om te help om kuikens te red."
Tracey het dadelik begin om rond te bel om by voëlbeskermingsinstansies hulp in te win en om uit te vind wat sy die honderde kuikens kon voer. Sy kon met Brendan en Danelle Murray, van die Owl Rescue Sentrum in Hartebeespoort, kontak maak.
Brendan en Danelle Murray, van die Owl Rescue Sentrum in Hartebeespoort, het spesiaal afgevlieg om te help om die bosluisvoëlkuikens te help red.
"Sonder om twee maal te dink, het Brendan laat weet dat hy onmiddellik afvlieg tot in Gqeberha (Port Elizabeth). Van daar af het hy na Cradock met 'n gehuurde motor gery. Hulle het ook nog kuikens en voëls in Cradock gaan haal, waar meer mense nou by die reddingspoging betrokke geraak het."
Brendan en Danelle Murray deel op die Owl Rescue Centre se Facebook-blad mee dat hul 50 beesreiers (bosluisvoëls) in 'n uiters swak toestand probeer red het, maar dat daar te veel was om per vliegtuig terug te neem. Gelukkig kon hulle 'n bakkie huur en het hulle die voëls na die Suid Afrikaanse Wildrehabilitasiesentrum in Gauteng vervoer.
Dit is hartseer dat daar soveel kuikens van hierdie beskermde spesie omgekom het tydens hierdie ondeurdagte optrede in Cradock. Bome moet liefs in die winter afgesaag word, wanneer daar geen broeipare in die bome is nie.
Enige bydraes tot die reuse reddingspoging in Cradock kan oorbetaal word in die volgende rekening.
Owl Rescue Centre NPC
Nedbank Current Account: 103 081 9580
Takkode: 198 765.
Alle eer en dank gaan aan Tracey Michau wat uit haar pad gegaan het om hierdie grootse reddingspoging te loods en dit met slegs die hulp van 'n paar van die kinders vanuit die omgewing.
Sterwende bosluisvoëlkuikens nadat die munisipaliteit dennebome afgekap het waarin die kuikens uitgebroei het.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'