KAROO NUUS - Die Graaff-Reinet en Aberdeen-polisie het behoorlik van Dinsdag, 12 Junie, tot Woensdag, 18 Junie onder misdadigers ingeklim en arrestasies uitgevoer.
Verdagtes is vir 'n groot verskeidenheid misdrywe toegesluit.
Graaff-Reinet
Alhoewel geen moordarrestasies gemaak is nie, is twee mense vir erenstige aanranding en een vir gewone aanranding in die vangwaens gelaai.
Oneerlikheidsmisdrywe in dié 'hoofstad' van die Camdeboo-streek, het oortreders ook duur te staan gekom. Twee vermeende huisbrekers, drie diewe, 'n winkeldiefstal-verdagte, asook 'n persoon wat vermoedelik in 'n motor ingebreek het, is agter tralies geplaas om na te dink oor wat hulle aan die hof gaan verduidelik.
Dwelms en alkohol het ook sy tol geëis onder mense wat nie die land se wette nugter nagekom het nie. Twee mense is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, terwyl een vermeende dronkbestuurder, drie dronk en wanordelike alkoholgebruikers en twee wat op straat hul drankie geniet het, toegesluit is.
Vir verkeersoortredings is drie motorbestuurders selle toe geneem.
Aberdeen
In dié Oos-Kaapse karoodorpie is een persoon vir seksuele aanranding vir eers uit die gemeenskap weggeneem. So is 'n verdagte op 'n klag van aanranding ernstig toegesluit en moes agter tralies tyd spandeer saam met drie verdagtes in veediefstalsake, een verdagte dief, en een verdagte wat vermoedelik in besit was van dwelms. Daar was ook 'n verdagte wat in die besit was van huisbraak-gereedskap.
Ses besope mense is ook polisiestasie toe geneem om te gaan 'uitdroog'.
Vonnisse
In die Graaff-Reinet hof is een beskuldigde 'n R1 000 boete opgelê, opgeskort vir vier jaar, vir aanranding ernstig.
'n Winkeldief is met die keuse gelaat om R1 000 boete te betaal of ses maande in die tronk deur te bring.'n Huisbreker is twee jaar tronk toe gestuur, terwyl iemand wat die voorwaardes van 'n interdik geminag het, ses maande gevangenis, opgeskort vir vier jaar, opgelê is.
Baviaanskloof
Speurdersersant KC Mapoe van Baviaanskloof se goeie werk het vrugte afgewerp toe drie beskuldigdes in 'n aanranding ernstig saak, deur die streekhof elkeen vir 15-jaar tronk toe gestuur is.
Afrika Michaels (26), Chuwayne Michaels (25) en Noël Maia (25), is skuldig bevind daarop dat hulle 'n 46-jarige plaaswerker op die plaas, Sederkloof, in Augustus 2018 aangerand het.
Brigadier Rudolph Adolph, het Mapoe vereer en bedank vir sy goeie werk.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'