KAROO NUUS - Die amnestietydperk vir die inhandiging van vuurwapens wat tydens die inperkingsdperiode verstryk het, is verleng.
Die nuwe amnestie strek nou vanaf 1 Augustus tot 31 Januarie 2021.
Volgens 'n verklaring van die polisie, het talle mense op die vorige amnestietydperk gereageer en 46 714 vuurwapens is van Desember 2019 tot Mei 2020 by polisiestasies landwyd ingehandig.
As gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls kon mense egter sedert April nie vuurwapens inhandig nie.
Volgens die verklaring het die inhandiging van wapens tydens die vorige tydperk 'n groot bydrae gemaak tot die bekamping van misdaad. Tydens die amnestietyd kan ongelisensieerde vuurwapens sonder vervolging ingehandig word. Dit geld egter nie vir vuurwapens wat met misdade verbind kan word nie.
Vuurwapeneienaars wat nie langer vuurwapens wil besit nie, kan dit ook inhandig om vernietig te word. Gedurende dié tydperk kan vuurwapens waarvan lisensies verval het, ook ingehandig word terwyl aansoek vir 'n nuwe lisensie oorweeg word.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'