ABERDEEN NUUS - November se byeenkoms van die Aberdeen VLV-tak is by Aberdeen Self Catering aangebied.
Die gesellige onthaalarea met tafels, leerbanke en bedieningspunte onder afdakke binne die beskutting van die gastehuis se lieflike karootuin wass die ideale plek vir so ‘n jaarafsluiting.
Lea van der Vyver open die byeenkoms toe met die boodskap dat ons nie in vrees moet leef nie – selfs te midde van droogte en al die negatiewe dinge in ons land wat ons tans oorweldig.
Die Woord van God sê in Rom 8 dat niks ons van God se liefde kan skei nie en in Fil 4 lees ons dat God vir ons vrede sal gee wat alle begrip oortref as ons tot Hom bid, smeek en Hom dank, selfs binne-in ons moeilike omstandighede.
Na ‘n paar VLV sake en die finalisering van twee Kersprojekte wat beplan word, is dit tyd om meer oor tuinmaak met kruie te leer.
Annalie Lategan, sameroeper Landbou & Tuinbou, vertel die lede toe hoe om ‘n kruietuin te maak. Besluite rondom tema, ligging, ontwerp en spesifieke tipe kruie word bespreek.
Daarna word inligting rondom die voorbereiding van die grond gegee.
Die aanplanting word dan deur Lategan demonstreer met die plant van ‘n verskeidenheid kruie in een pot.
Elise Steynberg, Luise de Jager, Karin Pienaar en Theresa van der Merwe met geskenke wat uitgeruil is.
Sy vertel ook hoe die kruie geoes word. Na afloop van die demonstrasie word die kruiepot aan voorsitter Lea van der Vyver geskenk as bedanking vir wat sy die jaar vir die tak gedoen het.
Daar word toe weer ‘n marktafel met tuisgemaakte produkte gehou.
Die keer was daar heelwat kruieplantjies te koop wat behoorlik opgeraap was, aangesien almal geinspireer is om te plant!
Lede het toe elkeen ‘n Kersgeskenk uitgeruil sodat elkeen ‘n ander se geskenk ontvang.
Die dag is afgesluit met koffie en heerlike eetgoed wat Carina Esterhuizen gemaak het.
Lea van der Vyver ontvang die kruiepot van Annalie Lategan na die plantdemonstrasie.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'