GRAAFF-REINET NUUS — Die Nasionale Toneel Organisasie (NTO) brings Augustusmaand hul produksie 'Thank you for the music' na Graaff-Reinet!
Jonk en oud ken die musiek van die super suksesvolle groep ABBA.
Mens hoef maar net daagliks na die radio te luister om te hoor hoeveel van hulle treffer-liedjies gereeld gespeel word.
Danksy die rolprente en musiekblyspele “Mama Mia”, is die jonger garde ook bewus van die betowering van ABBA se musiek.
Kort voordat dit bekend geword het dat die super-groep van die sewentigerjare, ABBA, weer bymekaar kom om later vanjaar ‘n CD uit te reik, het die Nasionale Toneel Organisasie (NTO) aangekondig dat hulle hul produksie van “Thank you for the music” op ‘n nasionale toer neem.
Die produksie streef nie daarna om ABBA na te boots nie, maar is eerder ‘n hulde-konsert bestaande uit al hul top treffers. Die vier Kunstenaars - Danii Kempshall, Renecia Mathys, Kevin Isaacs en Hilton Andries voer verwerkings van treffers soos “Waterloo”, “Mama Mia”, “The Winner takes it all”, “Money, money money” en ‘n verdere 22 treffers van ABBA uit.
Die produksie bestaan uit solo’s, duette sowel as ensemble werk. Musikale regie en choreografie is deur Monqiue Filander. Die spesiale beligtingeffekte en klank word behartig deur Terence Hoffman.
Gehore kan uitsien na ‘n nostalgiese twee ure in die geselskap van hierdie groep talentvolle sangers. Al die liedjies is ou bekendes en gehore is welkom om saam te sing, te dans en hande te klap.
“Thank you for the music” word op 24 Augustus by die John Rupert-teater op Graaff-Reinet opgevoer.
Moenie die uitstekende vertoning misloop nie!
Kaartjies sal binnekort by die plaaslike toersimekantoor beskikbaar wees, andersins, die nasionale nommer vir besprekings is 021 828 9119.
Die Nasionale Toneel Organisasie (NTO) bring eersdaags hulde aan ABBA met hul produksie van “Thank you for the music” wat hul na Graaff-Reinet bring.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'