MURRAYSBURG — Die komende Sondag, 19 Maart, is dit wéér tyd vir die Stilfees op die plaas Grootdriefontein in die Murraysburg-distrik.
Die Stilfees is 'n unieke musiekfees in 'n populierbos, wat besoekers van Gauteng tot Kaapstad lok.
Daar tree vyf musiekgroepe deur die loop van die dag op, waaronder die Bottomless Coffee Band, Kaleidoskoop en Joshua na die Reën, asook Jaco van der Merwe van Bittereinder wat deel is van die Afrikaanse-groep Die Begin.
Organiseerders maan diegene van nabygeleë dorpe wat beplan om dit by te woon om te sorg dat hulle teen 10vm op die dag hul plek ingeneem het om dan die musiek tot 5nm te kan geniet.
‘n Nuwigheid vanjaar is Jaco Spies van Djembe Drumming. Kan jy jou indink hoe dit klink as ‘n 100 mense die geleentheid kry om ‘n ritme op sy eie djembe te slaan?
Feesgangers kan hul eie stoele en/of kombers saambring. Jy kan ook 'n piekniekmandjie saambring maar soos meeste al in die verlede ontdek het is dit lekkerder om jou deur die loop van die dag aan al die Karoo-lekkernye wat by die stalletjies verkoop word te verlustig!
Feesgangers kan net sit (of lê) en na sielsmusiek luister of weer bande optel met langverlore vriende. Daar is genoeg hoekies en draaitjies vir kinders om na hartelus te speel.
Indien jy nog graag wil kom, bespreek by www.stilfees.co.za. Toegang vir volwassenes beloop R175 en vir skoliere R75. Kinders onder die ouderdom van ses kan dit gratis bywoon. Diegene wat nog inligting verlang kan Karin Reynolds by 049 854 9131 met hul navrae kontak.
Siende dat Murraysburg in so 'n pragtige omgewing geleë is, is daar ook nou fietsry-, draf- en staproetes by die Stilfees gevoeg.
Alle sportgeesdriftiges kan Saterdag, 18 Maart, dit saam kom geniet.
Die fietsry begin om 9.30vm vanaf die parkeerterrein op Grootdriefontein. Daar is drie verskillende sirkelroetes wat jou 'n uur, drie ure of vier ure kan besig hou. Die terrein is geskik vir bergfietse en neem die roetes jou deur nabygeleë plase.
Deelnemers word gevra om alles saam te bring wat hul sou kon benodig.
Deelname is gratis.
Vir die bergpadwedlope kan deelnemers om 3nm aanmeld op 18 Maart by Grootdriefontein se parkeerterrein. Daar is voorsiening gemaak vir 'n 5km-roete asook 'n 12km-roete. Die laaste gedeeltes van die roetes is in die populierbos en eindig dit by die feesterrein.
Inskrywings beloop R80 vir almal bo die ouderdom van 12. Vir enige navrae in dié verband kan 072 434 2126 geskakel word. Na afloop van die wedlope sal 'n laatmiddag bring-en-braai gehou word - alles is self-voorsienend.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'