SUID-KAAP NUUS - 'n Kursus vir pastorale werkers in hospitaalbediening word vanaf Februarie in George aangebied.
Die hospitaalbediening word gedoen onder toesig van HospiVision, 'n nie-winsgewende organisasie (www.hospivision.org.za). Die totale kursus van 45 uur bestaan uit vyf modules. Die modules word gewoonlik 'n maand uit mekaar aangebied.
Module 1 word van 7 tot 9 Februarie van 09:00 tot 12:30 aangebied.
Die volle kursus is verpligtend vir persone wat deel wil word van die hospitaal-pastoraatspan. Persone wat wil inskakel by die span moet twee ure per maand saam met 'n klaar opgeleide persoon die hospitaal besoek. Die kursus is ook geskik vir persone wat in hulle eie gemeentes pastorale ondersteuning aan siekes wil gee. Module 1 fokus op die persoon van die pastorale werker, basiese vaardighede en hospitaaletiket.
Die res van die kursus dek onderwerpe soos siektebelewing; pastorale gesprek; die rol van geloof; die Bybel en gebed; fases van verlies en oordra van slegte nuus; geloofsvrae en lyding; hantering van dood, verwerking van verlies, skuld, konflik en woede; selfsorg en grense van die pastorale werker asook etiese vrae in pastorale werk (onder meer orgaanskenking).
Dr. Frederik Nel is die aanbieder en opleiding vind plaas by Langenhovenstraat 31 (in dieselfde gebou as Burger en Sloet Prokureurs). 'n Vrywillige donasie van R100 per module word gevra om die administratiewe kostes, notas (ongeveer 200 bladsye) en tee te dek en mense te subsidieer wat nie kan bydra nie.
'n Maksimum van 12 mense kan vir die kursus ingeneem word.
Vir meer inligting, bel dr. Frederik Nel by 044 873 2726 (kantoor) of 083 254 7499 of stuur 'n e-pos na admin@fnel.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'